Iere was brekers by die afbreekpunte

Die Springbokke het met 13 – 8 teen Ierland in Parys verloor. (Foto: Jean-Marie Hervio/KMSP via AFP)

Stelskopwerk is ongetwyfeld die Springbokke se achilleshiel. Manie Libbok en Faf de Klerk het Saterdagaand in Parys met vier skopkelkiepogings teen Ierland skeef gekorrel.

Om 11 punte weg te gooi wanneer jy ʼn kragmeting met slegs vyf punte verloor, laat ongetwyfeld ʼn wrang smaak in die mond.

“Ons het ʼn paar stelskoppunte gemis, maar dit was nie die enigste ding wat ons die wedstryd gekos het nie,” het Jacques Nienaber gesê.

Volgens die Springbok-afrigter was die Iere ook brekers by die afbreekpunte gewees.

“Hulle het ons in dié afdeling van die spel oordonder en ons kon nie momentum opbou nie. Ons sal hard op die oefenveld moet werk om te verbeter.”

Siya Kolisi het met dié ontleding saamgestem.

“Ons het nie die wedstryd in net een afdeling verloor nie. Ons het 12 strafskoppe afgestaan en dit was meestal by die afbreekpunte. Ons het goeie geleenthede vir onsself in die halfgebied geskep, maar kon dit doodeenvoudig net nie benut nie,” het die nasionale rugbykaptein gesê.

Ondanks die nederlaag van 13–8 meen Nienaber dat die Springbokke steeds met die Wêreldbeker-louere kan wegstap.

“Net soos elke liewe ander span is ons hier om die toernooi te wen. Ons het teen die wêreld se voorste span gespeel en met vyf punte verloor. Ons het wel in die 79ste minuut ʼn kans gehad om die wedstryd te wen, maar ons het die geleentheid deur ons vingers laat glip.”

Suid-Afrika sal nou volgende Sondag vir Tonga in Marseille moet klop om vir die kwarteindstryd teen Frankryk te kwalifiseer.

“Die bal is nou in ons hande,” het Nienaber afgesluit.

“Ons volle aandag is op die Tonga-wedstryd en ons kan nie bekostig om aan Frankryk te dink nie. As ons teen Tonga struikel, kwalifiseer ons nie eens vir die kwarteindstryd nie.”

Groep B:

  1. Ierland: 14 punte ná 3 wedstryde
  2. Suid-Afrika: 10 punte ná 3 wedstryde
  3. Skotland: geen punte ná 1 wedstryd
  4. Tonga: geen punte ná 1 wedstryd
  5. Roemenië: geen punte ná 2 wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

kragaap ·

Dalk moes die kaptein genoem het hoekom hy die bal op die Iere se doelyn verloor het…..

Chrisp ·

Met SA se nr2 wat beseer is en eintlik die nr6 se werk doen wys dit die nr6 uit vir wat hy is ‘n mooi politieke gebaar .
Om die proteas se kaptein weg te steek moet hulle ‘n 6 flank erens anders kies (de Allende het darem ‘n paar keer sy werk gedoen) en met Marx uit wys dit die hierdie feit mooi uit slegs die Kolisi ondersteuningsbende sien dit nie raak nie….

kragaap ·

Stem saam kaptein het nie veel leierskap of goeie spel bygedra nie. Soos gewoonlik verdwyn toe dit te hard raak daar voor.

Republikein in die Wes Kaap ·

Sonder Vermeulen is daar nie ‘n kaptein nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.