Jake kry vir Bismarck op Loftus

Bismarck du Plessis. Foto: AFP/Lionel Bonventure.

Dit is altyd lekker wanneer gerugte bevestig word; selfs wanneer jy reeds ’n geruime tyd weet dat daar inderdaad ’n vuurtjie by daardie rokie is.

Die Blou Bulle het vanoggend bevestig dat Bismarck du Plessis rugby op Loftus Versfeld sal speel.

Die 37-jarige haker het 79 toetse vir die Springbokke gespeel en het net soos Johan Goosen Montpellier vir Pretoria verruil; die Franse klubspan vir wie hy die afgelope ses jaar gespeel het.

Nodeloos om te sê, Jake White is in sy noppies met sy nuutste Loftus-aanwins – al is John Smit in sy Springbokdae gereeld bó die vurige haker gekies.

Du Plessis moes in 29 van sy amper 80 toetse meestal tweede viool teenoor Smit speel, wat in 111 toetse gespeel het en die Bokke 50 keer in wentoetse gelei het.

“Bismarck is die tipe speler wat ons hier op Loftus wil hê; iemand wat baie op die veld bied en terselfdertyd die jonger spelers kan touwys maak. Ouens soos Jan-Hendrik Wessels, Joe van Zyl, Johan Grobbelaar en Schalk Erasmus sal baie by hom kan leer,” het White gesê.

Du Plessis is verlede jaar saam met Bryan Habana en Tendai Mtawarira in Wêreldrugby se span van die dekade aangewys en hy is ongetwyfeld ’n speler wat daarvan hou om wedstryde te wen.

Hy het tydens een van Die Losgemaal-episodes gesê dat die Springbokke eintlik skoonskip teen die Britse en Ierse Leeus moes gemaak het.

“Ons moes hulle eintlik met 3 – 0 gewen het en hulle stert tussen die bene huis toe gestuur het sodat hulle vir die volgende 12 jaar oor die loesing kon praat,” het hy destyds gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kobus ·

Welkom terug in SA. Jammer Cheethas kan jou nie bekostig nie.Sterkte in Blou Bul land

N ·

Bismarck was en bly n yster. Net jammer dat jong spelers se kanse weereens gemors word.

Oom ·

Dit wil voorkom of ” wag vir dooie man se skoene” meer en meer vir die jongelinge in SA rugby begin geld. Die man was ‘n aanwins in sy jongdae, maar hy is nie ‘n Duane Vermeulen of Morne Steyn nie. Hulle word darem nog steeds vir die nasionale span gekies. Al wat hierdie “slim” afrigters veroorsaak is dat die jongelinge buite SA hulle heil sal gaan soek.

N ·

Jong spelers se kanse word weerhou en gaan speel dan oorsee en word daar raak gesien terwyl die ‘ervare’ speler in die springbok span gehou word. Oor n jaar of twee word n nuwe ‘ervare’ (oud) speler weer in sy plek gesit. SA rugby moet na jong talent begin kyk. Spelers soos Elrigh Louw, Ewan Roos, Tyrone Green, Dylan Richardson ens moes al by die Springbok span aangeluit het. Nie noodwendig in die begin span nie, maar wel deel van die groep.

Chris dupreez ·

Dit gaan baie beteken vir die jong hakers om sy ervaring met hulle te deel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.