Jake meen Bulls kan bordjies verhang

Kurt-Lee Arendse is een van die Bulls-spelers wat oor die X-faktor beskik. (Foto: GB Jordaan.)

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugby-unie, het Woensdagoggend per WhatsApp laat weet dat 32 000 kaartjies vir die naweek se derby in Kaapstad reeds opgeraap is.

Die Stormers en die Bulls speel Saterdag om 19:00 teen mekaar op die DHL-stadion en die Pretorianers sal alles in die stryd werp om die bordjies teen die tuisspan te verhang.

Hulle wen immers deesdae nie sommer ʼn wedstryd teen die Stormers nie.

In die laaste ses Verenigde Rugbykampioenskap-kragmetings was die Kapenaars nog nie een keer aan die verloorkant teen die rugbyroom van die Jakarandastad nie.

Maar, sê Jake White, dié Bulls-groep is goed genoeg om ʼn wenhaas uit die hoed te pluk; selfs op die DHL-stadion.

Volgens die Pretorianers se direkteur van rugby kan die span se diepte nou ʼn deurslaggewende rol speel.

“Ons probeer om die spelers gereeld te roteer en hopelik sal ons ʼn fiks en vars wedstrydgroep vir die naweek kan kies; ons weet dit is ʼn reusewedstryd wat op ons wag,” het White gesê.

Die Bulls (derde plek) geniet tans ʼn voorsprong van sewe punte bó die Stormers (tiende plek) op die amptelike VRK-punteleer.

White meen dat sy spelers oorgehaal is om dié voorsprong te vergroot.

“Ons handhaaf ʼn positiewe ingesteldheid en die spelers is opgewonde oor die wedstryd. Ja, ons het nou al ʼn paar wedstryde teen hulle verloor, maar een of ander tyd behoort dinge weer in ons guns te tel.”

Die Stormers het weliswaar ʼn rits wedstryde in die aanloop tot die jongste weergawe van die VRK-reeks verloor, maar verlede naweek se goeie oorwinning teen La Rochelle sal hul selfvertroue ʼn definitiewe hupstoot gee.

Die wedstryd begin Saterdag om 19:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

  • Uitslae van die vorige VRK-kragmetings tussen die Stormers en die Bulls:

22 Januarie 2022: Stormers 30 – 26 Bulls

9 April 2022: Stormers 19 – 17 Bulls

18 Junie 2022: Stormers 18 – 13 Bulls (eindstryd)

23 Desember 2022: Stormers 37 – 27 Bulls

18 Februarie 2023: Stormers 23 – 19 Bulls

6 Mei 2023: Stormers 33 – 21 Bulls

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.