Jong Bokke skop kampioenskap-veldtog teen Kiwi’s af

Die Junior Bokke, Argentinië, Nieu-Seeland en Australië sal in die eerste kompetisie van sy soort om die trofee meeding. (Foto: X)

Die jong Springbokke sal hul veldtog by die o.20-Rugbykampioenskap teen Nieu-Seeland by die Sonskynkus-stadion in Queensland, Australië, afskop.

Dié kampioenskap is die eerste van sy soort waar spanne uit die Suidelike Halfrond mekaar die stryd gaan aansê.

Dit dien as ʼn voorsmakie vir die groep se voorbereiding vir die o.20-Wêreldtoernooi wat van 29 Junie tot 19 Julie in Kaapstad plaasvind.

Die kampioenskap behels ʼn rondomtalie-formaat van ses wedstryde waar Australië, Nieu-Seeland en Argentinië om die trofee sal meeding.

Bafana Nhleko, die jong Bokke se breier, het reeds ʼn paar oefenkampe ter voorbereiding agter die blad.

“Dit gee ons as span die perfekte kans om voor die aanvang van die wêreldtoernooi teen topgehalte-spanne skouers te skuur. Ons het meer as genoeg tyd om die spankeuses vas te maak.”

Nhleko sê die toernooi in Australië is ʼn handige leerskool vir die span.

“Ons is opgewonde om in hierdie toernooi te speel. Dit is ʼn wonderlike ervaring vir die spelers en ʼn fantastiese geleentheid om sodoende eenheid in die span te ontwikkel.”

Volgens Brendan Morris, Sanzaar (die beheerliggaam aan die stuur van toernooie soos Superrugby en die Rugbykampioenskap) se uitvoerende hoof, is dít ʼn unieke formaat waar van die beste spanne in aksie gaan wees.

“Die kampioenskap is ʼn opwindende belegging- en ontwikkelingstrategie wat ʼn meer gedefinieerde pad vir jonger spelers na senior en internasionale rugby sal gee.

“Spelers kan net voordeel hieruit trek weens die blootstelling aan internasionale wedstryde teen topgehalte-opposisie. Die toernooi sal ook ekstra ontwikkelingsgeleenthede vir afrigters, spanbestuurders en wedstrydbeamptes bied.”

Suid-Afrikaners het brons in verlede jaar se wêreldtoernooi op eie bodem verower. Hulle is saam met Engeland, Argentinië en Fidji ingedeel. Die Bokke het verlede jaar juis die Rose in die uitspeelstryd met 22-15 die loef afgesteek om die derde plek te verower. Hulle het ook die Argentinië met 24-16 in die groepfase uitoorlê.

Die o.20-Rugbykampioenskap se wedstrydbepalings:

*Al die kragmetings word op die Sonskynkus-stadion gespeel.

Donderdag, 2 Mei

09:00 – Springbokke teen Nieu-Seeland

11:00 – Australië teen Argentinië

Dinsdag, 7 Mei

09:00 – Nieu-Seeland teen Argentinië

11:00 – Springbokke teen Australië

Sondag, 12 Mei

09:00 – Springbokke teen Argentinië

11:00 – Australië teen Nieu-Seeland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.