Jong Laevelder kry kans om in Haaitenk te baljaar

Kevin Forssman is ’n trotse Haai-ondersteuner. (Foto: Verskaf)

Die Haaie het Saterdag twee foto’s langs mekaar op sosiale media gedeel.

Op die eerste foto vier Kevin Forssman die Durbaniete se doodsnik-oorwinning teen die Pumas op die Mbombela-stadion. Net langsaan kan jy sien hoe die jong Laevelder saam met sy helde op Kingspark hardloop.

“Hoe dinge begin het” en “Hoe dit verloop” is ongetwyfeld gepaste opskrifte.

Jip, die Haaie het die daad by die woord gevoeg en die onderhoofseun van Laerskool Malelane het nie net sy gunstelingspelers ontmoet en saam met hulle middagete geniet nie, maar hy was ook deel van die opwarmingsaksie vóór hul Curriebeker-wedstryd teen die Leeus.

Natuurlik het alles tot ʼn crescendo opgebou en die hoogtepunt was toe hy saam met kaptein Reniel Hugo op Kingspark uitdraf.

“Dit was ʼn baie spesiale oomblik en ek was só trots. Dit is ʼn ervaring wat ek nooit sal vergeet nie – die opwinding, spanning en alles wat daarmee gepaard gaan. Dit was pleinweg ongelooflik,” het Kevin gesê.

Thank you for helping us find Kevin ????#FearTheFin

Posted by The Sharks on Saturday, June 3, 2023

Die Haaie het die wedstryd met 29 – 21 beklink om hul plek boaan die Curriebeker-punteleer te verstewig.

Kevin Forssman saam met Aphelele Fassi en Yaw Penxe. (Foto: Verskaf)

Kevin kon die aksie van langs die veld saam met die spelers volg.

“Ek moes ʼn hele paar keer my bes doen om my lag in te hou! Ná die wedstryd het ek foto’s saam met almal geneem en toe is ons kleedkamer toe. Ek het gesien dat die Haaie nie net ʼn rugbyspan is nie, hulle is soos ʼn familie.”

Die Haai-afrigter Joey Mongalo het intussen op Instagram die jong Laeveld-ondersteuner se lof besing en onder meer gesê dat sy passie ʼn mens wys dat niks onmoontlik is nie.

Saam met die Haai-span. (Foto: Verskaf)

Op sy beurt het Kevin ook nie geskroom om die heuningkwas uit te haal nie.

“Die coach is jonk en hy weet wat hy doen. Hy is streng met die spelers en almal het respek vir hom. Ek wou nog altyd vir die Haaie gespeel het, maar nou nog meer as ooit vantevore.

Hulle het my deel van die span laat voel; soos ʼn klein boetie.”

Mbombela-jolyt sorg vir gelukbringervreugde

Die Haaie het in Mei met ʼn Houdini-oorwinning van 24 – 22 teen die Pumas in Nelspruit vorendag gekom en terwyl die televisiekameras oor die toeskouers flits, het dit vir ʼn rukkie by ʼn jong Haai-ondersteuner stilgestaan wat kwalik sy vreugde kon beteuel.

Die KwaZulu-Natallers het terstond ʼn skermskoot van sy jolyt op sosiale media gedeel en hul ondersteuners gevra om te help om hom op te spoor.

Kevin is kort voor lank geïdentifiseer en die Haaie het hom genooi om hul gelukbringer vir die Leeus-wedstryd te wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.