Jong Laevelder nou Haai-gelukbringer ná emosionele oomblik

Kevin Forssman is ’n trotse Haai-ondersteuner. (Foto: Verskaf)

Daar was Vrydag hoogdrama op die Mbombela-stadion in Nelspruit.

Met minder as drie minute op die stadionhorlosie oor het die Pumas ʼn goeie voorsprong van 22 – 10 teen die Haaie in ʼn Curriebekerkragmeting geniet. Maar binne ʼn oogwink het éérs Dylan Richardson en tóé Dian Bleuler drieë vir die Durbaniete gedruk.

Nevaldo Fleurs se doelskoppoging sou die verskil tussen wen en ʼn gelykopuitslag vir die Haaie beteken, en met die Laevelders wat lekker vanuit hul pawiljoensitplekke saamgesels, het die 23-jarige speler die bal suiwer oor die dwarslat gejaag.

Terwyl die spelers hul Houdini-oorwinning van 24 – 22 op die veld vier, het die televisiekameras oor die toeskouers geflits en vir ʼn rukkie by ʼn jong Haai-ondersteuner stilgestaan wat kwalik sy vreugde kon beteuel.

Die KwaZulu-Natallers het terstond ʼn skermskoot van sy jolyt op sosiale media gedeel en hul ondersteuners gevra om te help om die jong Laeveld-Haai op te spoor.

Die like-knoppie is intussen ’n paar duisend keer gedruk, terwyl die inskrywing ook 1 500 keer gedeel is.  Vernuftige internetspeurwerk het ʼn naam opgelewer: Kevin Forssman van Laerskool Malelane!

This is what the win in Mbombela meant to our young fan. Help us locate him to thank him for his passion and to give him the opportunity to meet the team????????

Posted by The Sharks on Monday, May 15, 2023

“Ek het nie self gesien dat ek op televisie was nie. My ma was by die huis en het dit opgeneem. Toe ek later die video op SuperSport sien, het ek lekker gelag – nou was ek tog ook op TV,” het Kevin vertel.

Volgens die 13-jarige onderhoofseun en agterspeler van sy skool se eersterugbyspan het die Haaie ook intussen kontak gemaak.

Joey Mongalo het gevra dat Kevin ʼn boodskap moet stuur waarin hy nie net sy emosies beskryf nie, maar ook vertel wat die oorwinning vir hom beteken het.

Kevin behartig ook sy skool se stelskopwerk. (Foto: Verskaf)

Die Curriebeker-afrigter wil dit graag vir sy spelers speel om na te luister.

Hulle het terselfdertyd vir Kevin gevra om die span se gelukbringer vir hul belangrike wedstryd teen die Leeus op Kingspark in Junie te wees.

Kevin gaan dan as’t ware die Haaie se 24ste speler wees.

Maar terug na daardie wedstryd op die Mbombela-stadion en Fleurs se suksesvolle doelskop.

“Ek was só bly. Ek was aanvanklik vies want die Pumas-ondersteuners het natuurlik probeer om hom te ontsenu. Toe die bal egter oor die dwarslat trek en al die spelers begin feesvier, het ek gesukkel om my emosies in toom te hou. Ek skop ook self pale toe vir my skool en ek weet hoe dit [vir hom moes] voel.”

Hy vertel dat sy broers, pa, ma, oupa, ouma, oom en tannie ook groot Haai-ondersteuners is.

“Die manier waarop hulle rugby speel, is vir my baie mooi en opwindend. Die spelers het ook altyd tyd om met jou te gesels, maak nie saak of hulle gewen of verloor het nie.”

Nodeloos om te sê, swem ʼn spul Haaie in sy gunstelingspelertenk; maar as hy nou móét kies sonder hy die spel van Yaw Penxe, Boeta Chamberlain en Aphelele Fassi uit.

“Dit is my droom om self eendag vir die Haaie uit te draf en om my ouers so trots te maak. Soos wat my ma altyd sê: Alles kom met tyd en harde werk.”

Benewens sy vaardighede op die rugbyveld is hy ook ʼn kranige atleet en hokkiespeler, terwyl hy ook ʼn krieketbal gooi en ʼn gholfstok swaai.

“Ek wil graag ʼn verskil maak. Volgende jaar gaan ek na Hoërskool Rob Ferreira en ek wil nog beter dinge doen. Ek is ongelooflik opgewonde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Antoinette ·

Blink toekoms met so ‘n positiewe geaardheid vir jou, jongman. Kevin, mag jou drome waar word om eendag vir die Haaie uit te draf. Ook my gunsteling span. Sterkte en alles van die beste

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.