Junior Bokke begeesterd vir Italië-kragmeting

(Foto: @JuniorBoks/Twitter)

Die Junior Springbokke kom Donderdag teen Italië te staan in hul tweede Poel C-wedstryd van die o.20-Wêreldtoernooi.

Lumumba Currie, die Junior Bokke se hulpafrigter, is vol vertroue dat die skare goeie waarde vir hul geld gaan kry.

“Ons kom met energie en ywer en Italië is ʼn span wat met baie passie en vaardigheid speel. So, ons verwag ʼn hewige stryd.”

Die Junior Bokke is bly die eerste wedstryd is agter die rug en begin nou op voortgesette verbetering fokus, aldus Currie.

“Ons het wel in sekere gebiede teen Georgië gesukkel, maar daardie eerste wedstryd gaan altyd moeilik wees. Ons het ʼn ruk lank nie op daardie vlak gespeel nie en intensiteit was iets waaraan ons gewoond moes raak. Noudat dit uit die pad is, wil ons graag ons pogings en prestasie verbeter.”

Georgië het groot druk op Suid-Afrika in die skrum geplaas en die Junior Bokke het slegs 57% balbesit op hul ingooi gewen. Die Junior Bokke het die bal die minste gedra en die minste aangegee tydens die wedstryd.

“Ons het dit wel aangeraak. Dit was alles ʼn kwessie van ervaring, glo ek, en sommige veranderinge aan die span sal dit weerspieël. Ons het ook vir die spelers gesê dat almal ʼn lopie in die eerste twee wedstryde sal kry en dat die plan nie verander het nie.

“Die veranderinge het niks te doen met ons respek vir Italië of enigiets nie, ons moet net almal in die groep die geleentheid gee om deel van die toernooi te wees. Ja, ons moet hierdie keer mik na ʼn beter platform en dit is presies wat ons van plan is om te doen.”

Currie het gesê die ervaring van Cornѐ Lavagna, wat op loskop sal begin, en Tiaan Wessels op slot sal die Junior Bokke in die skrum bevoordeel. “Blokkies (Lavagna) het wel in verlede jaar se o.20-somerreeks gespeel, so hy het goeie ervaring op hierdie vlak. Tiaan is ʼn skrumslot, so ons kyk na ʼn goeie uitkoms in daardie opsig.”

Currie verwag dat die Italianers hard gaan speel. “Hulle is nog gekwes ná die loesing deur Argentinië, want hulle is eintlik as span tot veel meer in staat. Maar ons het ons plan gereed vir hierdie wedstryd en het hard gewerk om die beste uitkoms vir ons te lewer.”

Italië het ook verskeie verandering aan sy beginspan aangebring.

“Ons kyk egter net na onsself en wat ons in hierdie wedstryd moet doen om te seëvier. Ons soek goeie verbetering vanaf die laaste wedstryd en ek is vol vertroue dat die uitslag ʼn positiewe een vir ons sal wees.”

Donderdag se wedstryd word by Paarl Gimnasium gespeel en begin om 16:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

absoluut ·

Sterkte en speel goeie rugby, speel saam en nie elkeen op sy eie nie, ons staan bankvas agter julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.