Junior Bokke skakel (te laat) oor na hoogste rat

DieJunior Springbokke het die bronsmedalje by Wêreldrugby se o. 20-kampioenskap gewen. (Foto: Twitter)

Dit is weliswaar nie goud of silwer nie, maar die Junior Springbokke kan tog hul koppe lig nadat hulle die bronsmedalje by Wêreldrugby se o. 20-kampioenskap gewen het.

Dit was die negende keer dat die Junior Bokke derde in die toernooi geëindig het. Maar dit was die eerste keer vanjaar dat hul volle potensiaal werklik na vore gekom het toe hulle Engeland met 22 – 15 in die uitspeelwedstryd om die derde plek in die Athlone-stadion in Kaapstad geklop het.

Dit was stukke beter as teen Ierland en Italië, wedstryde wat die Junior Bokke albei verloor het. Dit was ook beter as die oorwinnings oor Georgië en Argentinië, wat die jong Suid-Afrikaners darem die uitspeelwedstryde laat haal het, maar toe teen die Iere vasgeval het.

Dalk was die verwagtinge voor die toernooi te groot dat hulle op tuisbodem ʼn tweede keer as kampioen gekroon sou word. Dalk sukkel die spelers om die gevestigde suksesvolle spelpatrone van skolespanne soos Grey Kollege, Paarl Gimnasium, HJS Paarl, Garsfontein en Affies af te skud en te gou soos die Springbokke te probeer speel.

In die Junior Bokke se eerste paar wedstryde was daar ʼn hele paar haakplekke en soms sou die Junior Bokke te veel op fisieke spel staatmaak om die oorhand te kry, terwyl hul skrumwerk en verdediging onder verdenking was.

Teen Engeland het hulle die wedstryd beter bestuur, hul verdediging en besluitneming was stukke beter en hulle het Engeland in foute gesmoor.

Yster-voorspelers soos Corné Beets, Hennie Sieberhagen, die kaptein, Paul de Villiers, Tiaan Wessels, Coetzee le Roux en Juann Else het gedy en agterlangs het talentvolle spelers soos Regan Izaks, Katlego Letebele, Jean Smith en Niel le Roux meer tot hulle reg gekom.

In die stryd om die goue medalje het die Franse teen Ierland uitgetroon en met vonkelrugby met 50 – 14 gewen.

ʼn Mens hoop nie dis ʼn voorbode nie, maar rugby in Frankryk beleef ʼn goue tydperk. Dit voorspel niks goed vir die ander spanne in die Wêreldbekertoernooi oor twee maande in Frankryk nie.

Onthou gerus dat dit die jong Hane se derde opeenvolgende toernooi-oorwinning was en dat hulle die Junior All Blacks dit nou nagedoen het.

Puntemakers:

Junior Bokke 22 (22): Drieë: Hennie Sieberhagen, Corné Beets, Juann Else. Doelskoppe: Jean Smith (2). Strafdoel: Smith.

Engeland 15 (15): Drieë: Craig Wright, Zach Carr. Doelskoppe: Connor Slevin. Strafdoel: Slevin.

Ander uitslae: Eindstryd: Frankryk 50, Ierland 22.

Uitspeel om derde plek: SA 22, Engeland 15.

Uitspeel om vyfde plek: Australië 57, Wallis 33.

Uitspeel om sewende plek: Nieu-Seeland 50, Georgië 26.

Uitspeel om negende plek: Argentinië 43, Fidji 22.

Uitspeel om 11de plek: Italië 45, Japan 27.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.