Kampioenebekerreeks: Sharks vertrap Bordeaux Bégles

(Grafika: @SharksRugby/Twitter)

Wanneer ʼn Franse rugbyspan se dissipline die dag uitrafel, kan jy maar daarvan verseker wees dat hulle aandag nie meer by die wedstryd gaan wees nie.

Dit het Saterdagmiddag op Kingspark in Durban gebeur toe die Franse se Bordeaux Bégles-span vier geelkaarte teen die Sharks gekry en die duur prys daarvoor betaal het toe hulle met 32-3 in die Europese Kampioenebekerreeks afgeransel is.

Die Sharks was rustyd reeds met 22-0 voor en het vyf drieë gedruk.

Bordeaux het twee keer vir byna tien minute lank met net 13 spelers klaargekom nadat Christopher Vaota, Mateo Garcia, Clement Maynadier en Yannick Cazeaux geelkaarte gekry het.

Teen brekers soos Thomas du Toit, Bongi Mbonambi, Oxe Nche, Carlu Sadie, Eben Etzebeth, Gerbrandt Grobler en Siya Kolisi is dit mos vir moeilikheid soek.

Dis so jammer dat die Franse se lont so kort is, want hulle het vaardige spelers wat waarde kan toevoeg.

Maar in Frankryk draai jy mos nie die ander wang nie. In die ou dae kon spelers nog daarmee wegkom, maar met ʼn rits kameras wat elke beweging volg, ʼn skeidsregter, twee assistent-skeidsregters en ʼn televisieskeidsregter, wat is die kans dat jy met oortredings gaan wegkom?

Die Engelse skeidsregter Luke Pearce se geduld het heeltemal opgeraak en hy het Bordeaux se kaptein, Maxime Luca die leviete voorgelees, want dinge kon nie so aangaan nie.

Vir die Sharks was dit nog ʼn oorwinning op hul kerfstok. Hulle het weer voorlangs oorheers en met vinnige, vaardige spelskeppers soos Jaden Hedrikse, Lukhanyo Am, Makazole Mapimpi en Boeta Chamberlain (hy het wel sy skouer ontwrig het) is hulle byna onstuitbaar.

Punte: Sharks 32 (22): Drieë: Jaden Hendrikse (2), Gerbrandt Grobler, Marnus Potgieter (2). Doelskoppe: Lionel Cronjé (2). Strafdoel : Cronjé.

Bordeaux Bégles 3 (0): Strafdoel: Maxime Lucu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.