Kaptein Hooper gaan ook Boktoetse misloop

Australië se Michael Hooper. Foto: Michael Bradley/AFP.

Michael Hooper is nie in die groep van 35 Wallabies-spelers wat binnekort teen die Springbokke gaan kragte meet nie.

Die 30-jarige losvoorspeler het aan die vooraand van Australië se twee wedstryde teen Argentinië aangedui dat hy met sy gemoedstoestand en geestelike welstand sukkel en hy het homself aan die span onttrek.

Die Aussies het die eerste kragmeting met 41 – 26 gewen, maar hulle is in die tweede toets met 48 – 17 oorrompel.

Volgens Dave Rennie (afrigter) is hy in gesprek met Hooper, maar daar heers nog onsekerheid oor wanneer die veteraan van 121 toetse weer vir Australië sal uitdraf.

Dan is die ervare agterspeler, James O’Connor, ook nie deel van die Aussies se planne teen die Springbokke nie.

“James was in die span in die laaste toets teen Argentinië en ons wou gehad het dat hy die leisels in die agterlyn moes vasvat. Maar ons was rigtingloos op die aanval en het terselfdertyd sonder enige kohesie gespeel; daarom is hy nie gekies nie,” het Rennie gesê.

Die Aussies het ook vir die 32-jarige Bernard Folay nadergetrek nadat Quade Cooper ’n besering opgedoen het.

Foley het laas in 2019 vir die Wallabies uitgedraf.

Die Springbokke kon die Aussies in 2013 laas op hul tuisveld klop, maar volgens Jimmy Stonehouse beskik die Suid-Afrikaners ongetwyfeld oor die vermoë om die bordjies nou in Adelaide en Sydney te verhang.

“Alle wegwedstryde is moeilik,” het die afrigter van die Curriebeker-wenspan, die Pumas, gesê.

Hy meen dat spelers soos Frans Malherbe, Trevor Nyakane, Eben Etzebeth, Malcolm Marx en kie die grondslag vir ’n Springbok-sege kan lê.

“Suid-Afrika het ’n baie goeie pak voorspelers wat oor die vermoë beskik om ander spanne te oordonder.”

Australië se rugbygroep: Allan Alaalatoa, Rory Arnold, Angus Bell, Jock Campbell, Pone Fa’amausili, Folau Fainga’a, Lalakai Foketi, Bernard Foley, Nick Frost, Langi Gleeson, Jake Gordon, Reece Hodge, Jed Holloway, Len Ikitau, Andrew Kellaway, Marika Koroibete, Rob Leota, Noah Lolesio, Lachlan Lonergan, Tate McDermott, Fraser McReight, Hunter Paisami, Jordan Petaia, Matt Philip, David Porecki, Pete Samu, Scott Sio, James Slipper, Darcy Swain, Taniela Tupou, Rob Valetini, Suliasi Vunivalu, Nic White, Harry Wilson en Tom Wright.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Arme man se senuwees is skynbaar aan flarde. Die rugby wedstryd spanning is erg .Ek was so ‘n wrak in daardie eerste helfte van die Ellispark wedstryd , Bokke teen AB,s .

N ·

n Onbetroubare bron het laat weet Hooper speel nie agv rugprobleme, hy dra die span op sy rug al vir die laaste 5 jaar op sy eie.

Treurwilger ·

Met die Wallabies se ellelange beseringslys in gedagte behoort die Bokke skoonskip te maak.
Alle druk is op die Wêreldkampioene.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.