Kings-loesing Cheetahs se grootse Pro14-sege nóg

Ruan Pienaar speel van die beste rugby van sy loopbaan. Foto: Twitter.

Die afgelope naweek se drieëfees op Bloemfontein toe die Cheetahs sewe drieë teen die Kings gedruk het om met 45 – 0 te wen, is die Vrystaters se grootste sege nóg in die Pro14-reeks.

Die Bloemfonteiners is bekend vir hul aanvallende hardlooprugby; ’n strategie wat lekker in sonnige Suid-Afrika kan werk, maar lelik op die sopnat Europese velde kan misluk. Maar verlede naweek het die son op die Cheetahs-wedstrydplan geskyn en hulle het hul 200ste drie van die reeks gedruk.

In 53 Guinness Pro14-wedstryde het hulle nou ’n rekord van 26 seges en 26 nederlae, terwyl hulle een wedstryd gelykop gespeel het.

Die Cheetahs het die huidige reeks soos ’n wegholtrein begin en hulle was veral gevaarlik op hul tuisveld, maar op die toer na Europa én met die ander klubs se internasionale spelers wat stelselmatig hul terugkeer tot hul betrokke spanne gemaak het, het hulle die wind van voor begin kry.

Hawies Fourie se span is tans derde op afdeling A se punteleer met hul 31 punte ná 10 wedstryde, maar daar wag weer ’n moeilike toer op hulle.

Hulle speel op 15 Februarie teen die ligavoorlopers Leinster, terwyl hulle in die daaropvolgende week sake met Ulster gaan uitspook.

Vanaf 21 Maart speel hulle egter weer ses tuiswedstryde in hul Bloemfonteinse fort. En soos die Kings se Robbie Kempson ná Saterdag se wedstryd gesê het, dit is moeilik om die Cheetahs op hul tuisveld te vang.

Die twee seges oor die Kings sal baie vir die Vrystaters se selfvertroue beteken, maar die trietsige weersomstandighede in Europa is beslis nie jou maat nie – ’n les wat hulle verlede jaar op die harde manier geleer het.

Van die Cheetahs se Pro14-statistiek:

  • Punte aangeteken: 1 468
  • Punte afgestaan: 1 441
  • Drieë gedruk: 200
  • Drieë afgestaan: 178
  • Grootste sege: 45 – 0 teen Kings
  • Grootste nederlaag: 38 – 0 teen Munster

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.