Kiwi krities oor ‘ou Bokke’

Kies Malcolm Marx in die beginspan, vra baie rugbyondersteuners. (Foto: GB Jordaan.)

Van die Springbokke wat Saterdag teen die All Blacks in Auckland diens gedoen het, is glo naby aan die einde van hul rakleeftyd op die speelveld.

Dít is die mening van Hamish Bidwell, ʼn Nieu-Seelandse rugbyjoernalis, nadat die Suid-Afrikaners ʼn futlose vertoning in veral die eerste 20 minute van die kragmeting opgedis het.

“Dít is ʼn ou Springbok-span. ʼn Groep Wêreldbeker-wenners wat nader aan die einde van hul loopbane as aan die begin is,” het hy in een van sy rubrieke geskryf.

Volgens Bidwell was die Suid-Afrikaners nie juis ʼn maatstaf vir die All Blacks om hulself teen te meet nie.

“Dit sal die Springbokke baat as hulle eerder Malcolm Marx en die jonger spelers – wat Australië in die openingsronde laat les opsê het – in hul opdrafspan kies. Kyk, ek wil nie die glans uit die All Blacks-vertoning haal nie, maar ʼn mens kan nie sê hulle is nou die gunstelingspan om die Webb Elllis-trofee omhoog te hou nadat hulle dié Bok-span geklop het nie.”

Baie plaaslike rugbyondersteuners sal saamstem: Met Marx in die beginspan lyk die roete na moontlike Wêreldbeker-glorie heelwat korter as die een met hom op die plaasvervangersbank.

Daar kan nie van die “Bomb Squad” verwag word om op ʼn gereelde grondslag die kastaiings uit die vuur te kom krap nie; die beginvyftiental moet ook hul stempel op die wedstryd kan afdruk.

Tog meen Swys de Bruin dat die Bokke nie sommer weer in ʼn soortgelyke slaggat sal trap nie.

Die voormalige Leeus-afrigter het op SuperSport se Final Whistle-program gesê dat die Suid-Afrikaners waarskynlik nie weer met só ʼn lustelose vertoning vorendag sal kom nie.

“Dit was die een blaps ná die ander; dit is nie hoe ons dinge doen nie. Skrums, rolmaalbewegings en druk wat ons met skoppe toepas, is in ons DNS,” het hy gesê.

Die All Blacks het die besoekers veral in die lugaanvalle oordonder en De Bruin meen dat die Bokke se sporadiese en verspreide verdedigingslyne hom soms aan die foute laat dink wat ʼn laerskoolspan sou maak.

“Jy sal nie sommer – of indien ooit – weer ʼn Springbok-span sien wat ʼn skop só agternasit nie.”

Wêreldrugby-ranglys (soos op 17 Julie 2023):

  1. Ierland: 91,82 punte
  2. Frankryk: 90,47 punte
  3. Nieu-Seeland: 90,32 punte
  4. Suid-Afrika: 88,34 punte
  5. Skotland: 82,77 punte
  6. Engeland: 82,12 punte
  7. Argentinië: 81,49 punte
  8. Australië: 80,32 punte
  9. Wallis: 78,08 punte
  10. Japan: 77,39 punte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Die volgende wedstryd sal die All Blacks weer met ‘n ander plan kom en na 15 minute weer 17-0 op wees. Ek het nog nooit sukke rugby gesien nie. Dit was asof daar 30 All Blacks op die veld was. Daar moet nou baie baie mooi gedink word watter 33 wereld beker toe gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.