Kiwi’s trek snoeiskêr nader vir Dunedin-stryd

Ian Foster. (Foto: Phill Magakoe/AFP.)

Die All Blacks het verlede naweek op ʼn drafstap met die sukkelende Wallabies op die ikoniese Melbourne-krieketveld (MCG) afgereken.

Nou, met die oog op die Wêreldbeker-toernooi, het hoofafrigter Ian Foster die snoeiskêr nadergetrek en 12 veranderinge aan die Kiwi’s se opdrafspan aangebring.

Boonop is die Rugbykampioenskap en die Bledisloe-beker mos reeds in die sakkie, of hoe?

Net Ardie Savea, Brodie Retallick en Will Jordan behou hul plekke in die beginvyftiental vir Saterdag se tweestryd in Dunedin, terwyl Sam Cane voldoende van sy nekbesering herstel het om die kapteinskapleisels vas te hou.

“Dit is ons laaste wedstryd voor ons tuisskare en selfs al het ons ʼn paar veranderinge aangebring, is dit ʼn goeie geleentheid om ʼn tree in die regte rigting te gee,” het Foster gesê.

Volgens Eddie Jones beteken die grootskaalse veranderinge nie dat die All Blacks die wedstryd met minagting beskou nie.

Australië se Eddie Jones (Foto: Saeed Khan/AFP)

“Ek het genoeg dinge om my oor te bekommer en die veranderinge dui nie op ʼn gebrek aan respek nie,” het die Wallabies-hoofafrigter gesê.

Jones het self ook ʼn hele paar veranderinge aan sy span aangebring.

Tate McDermott sal vir die eerste keer die span aanvoer nadat Allan Alaalatoa sy hakskeen in die vorige wedstryd teen die All Blacks beseer het.

“Tate beskik oor al die eienskappe om ʼn goeie kaptein te wees en dit is beslis ʼn trotse oomblik vir hom. Dit is ʼn nuwe era vir Australiese rugby en ons moet nou hierop voortbou.”

Die wedstryd begin Saterdag om 04:35 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

All Blacks: Will Jordan (heelagter), Shaun Stevenson (regtervleuel), Braydon Ennor (buitesenter), Anton Lienert-Brown (binnesenter), Leicester Fainga’anuku (linkervleuel), Damian McKenzie (losskakel), Finlay Christie (skrumskakel), Ardie Savea (agtsteman), Sam Cane (kaptein en flank), Samipeni Finau (flank), Sam Whitelock (slot), Brodie Retallick (slot), Nepo Laulala (stut), Samisoni Taukei’aho (haker) en Tamaiti Williams (stut). Plaasvervangers: Dane Coles, Ofa Tuungafasi, Fletcher Newell, Tupou Vaa’i, Luke Jacobson, Aaron Smith, Richie Mo’unga en Dallas McLeod.

Wallabies: Andrew Kellaway (heelagter), Mark Nawaqanitawase (regtervleuel), Jordan Petaia (buitesenter), Samu Kerevi (binnesenter), Marika Koroibete (linkervleuel), Carter Gordon (losskakel), Tate McDermott (kaptein en skrumskakel), Rob Valetini (agtsteman), Tom Hooper (flank), Fraser McReight (flank), Richie Arnold (slot), Nick Frost (slot), Pone Fa’amausili (stut), David Porecki (haker) en Angus Bell (stut). Plaasvervangers: Jordan Uelese, James Slipper, Zane Nonggorr, Will Skelton, Rob Leota, Nic White, Quade Cooper en Izaia Perese.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Eddie J is seker omgekrap oor die ABs se span.

Niklaas ·

Moet nou nie verbaas wees as hierdie kraak vars en onbekende All Blacks uit hul velle speel en steeds die gevestigde onveranderde Wallaby span maklik oorrompel nie. Dan sal die Aus media vir Jones braai.

Kokkie ·

Kan iemand dalk help ? Begin die wedstryd om 04:35 Suid-Afrikaanse tyd ? Dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.