‘Klein unie?’ Watwou, Pumas blaf saam met groot honde

Die Pumas se Tinus de Beer. (Foto: Twitter/Curriebeker)

As die Pumas nog as ʼn sogenaamde “kleiner” unie in die Suid-Afrikaanse rugbykonteks beskou word, dan het die span beslis in die afgelope paar jaar bewys dat hy kliphard saam met die groot honde kan blaf.

Die Laevelders het vir hul tweede agtereenvolgende Curriebeker-eindstryd gekwalifiseer en hulle staan ʼn definitiewe kans om hul titel suksesvol te verdedig wanneer hulle Saterdag teen die Cheetahs in Bloemfontein speel.

“Ek is natuurlik baie in my noppies,” het ʼn opgewonde Marius van Rensburg, uitvoerende hoof van die Mpumalanga Rugbyunie, laat weet.

“Dit is ʼn groot prestasie vir ʼn span soos die Pumas. Ons het ʼn goeie aanloop tot die toernooi geniet, maar toe ʼn spoedwal of twee getref. Gelukkig kon ons weer welkome momentum in ons laaste paar wedstryde opbou.”

Die oorwinning van 63–15 teen die Blou Bulle op Loftus Versfeld en verlede naweek se halfeindstryd-triomf teen die Haaie is tot dusver sy twee gunstelingwedstryde van die seisoen.

“Niemand het ons juis ʼn kans in Durban gegun nie, maar die spelers het veral in die laaste drie minute net aanhou têkkel.”

Dit is juis die span se veggees wat Van Rensburg beïndruk.

“Al staar ons ná 80 minute ʼn agterstand in die gesig, sal ons beslis in bykomende tyd net aanhou fight.”

Die Pumas is gereeld ʼn wegspringblok vir talentvolle spelers om hoër hoogtes by ander unies te bereik.

“Om spelers aan ander spanne af te staan is ʼn werklikheid en dit is nooit juis lekker as so iets gebeur nie. Maar ons gun hulle dit. Ek dink ek sou meer bekommerd gewees het as dit nie gebeur het nie, want dan beteken dit dat ons nie raakgesien word nie!”

Hy stem ook saam dat die Laevelders besig is om sy “klein unie-etiket” af te skud.

“Dit is ʼn feit dat ons nie ʼn internasionale franchise is nie, maar ons is mededingend in die Curriebeker. Ons wil nooit net bloot aan ʼn toernooi deelneem nie, ons wil ook presteer.”

Die eindstryd begin Saterdag om 16:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Skeidsregters: Cwengile Jadezweni (hoofskeidsregter), AJ Jacobs (assistent-skeidsregter), Stephan Geldenhuys (assistent-skeidsregter) en Egon Seconds (televisie-skeidsregter).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

duiweboer ·

Ek sal graag wil sien as die groter unies al hulle top spelers inspan om teen die Pumas te speel. Dan is dit kuiken moord

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.