Kriel brand om weer te speel

Jesse Kriel. Foto: GB Jordaan.

Jesse Kriel het weliswaar vir die grootste deel van sy Springbok-loopbaan op senter uitgedraf, maar Saterdag sal hy met ’n nommer 14 op sy rug teen Wallis in Cardiff speel.

Hoewel hy die afgelope ruk nie veel in Springbok-kleure te siene was nie, het hy steeds sy vaardigheids- en fiksheidsvlakke op die oefenveld so hoog moontlik probeer hou. Daar is egter min dinge wat by ’n toetswedstryd kan kers vashou.

“Ek geniet dit om senter te speel, maar ek is net so opgewonde om hierdie naweek op vleuel uit te draf,” het Kriel vandeesweek gesê.

Die 27-jarige voormalige Bulls-speler het in 2017 en 2018 teen Wallis in Cardiff gespeel. Die Rooi Drake het daardie wedstryde onderskeidelik met 24–22 en 20–11 gewen.

Aphelele Fassi, Cobus Reinach en Jesse Kriel vier een van die Springbokke se drieë vroeër vanjaar. Foto: Hansie Linde.

Kriel verwag oudergewoonte ’n fisieke stryd teen die tuisspan, selfs al het hulle verlede naweek sleg teen die All Blacks verloor. Hulle is ook sonder die ervare Alun Wyn Jones en Ross Moriarty.

Terselfdertyd is die Bokke oorgehaal om vir die twee nederlae in Cardiff te vergoed.

“Wallis het destyds ’n eenvoudige wedstrydplan gevolg wat hulle goed op die veld uitgevoer het, terwyl ons ook nie op ons beste was nie. Maar ons het sedertdien al baie vordering as span getoon en ek verwag dat Saterdag nog ’n goeie tweestryd behoort te wees.”

Momentum is ongetwyfeld aan die Springbokke se kant: Hulle het immers die Wêreldbeker-halfeindstryd in Japan gewen, terwyl hulle ook onlangs die Britse en Ierse Leeus getem het.

Cardiff is egter net ’n hekkie wat in die onlangse geskiedenis effens té hoog vir die Suid-Afrikaners was.

Statistieke:

  • Die Springbokke het 29 van die 36 wedstryde tussen die twee lande gewen, Wallis was ses keer aan die wenkant, terwyl daar ook een gelykop uitslag was.
  • Die Suid-Afrikaners het vir 922 punte en 110 drieë gesorg, terwyl die Rooi Drake 568 punte aangeteken het. Hulle kon ook nog net 48 drieë druk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Kom ons hoop dis “third time lucky ” vir Jesse na hy twee keer in verloorspan was teen Wallis. maar as hy weer speel soos teen Japan in Brighton destyds (Japan het gewen), wag daar teenspoed dalks vir ons.

B-Man ·

Weet nie eers hoekom ons vleuels in die span het nie. As 9 nie skop nie, sal 10 en as 10 uitgee is dit vir ‘n senter (of heel dikwels ‘n voorspeler) wat so uitgehonger is vir die bal, dat hy hom amper nooit verder in die lyn sal afstuur nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.