Kwagga en Ilke se boodskap vir SA’ners vanuit Japan

Ilke en Kwagga Smith in Japan. Foto: Verskaf.

Kwagga Smith is ongetwyfeld een van Suid-Afrika se gunsteling-rugbyspelers. Hy het onder een van die Lions se gewildstes getel, terwyl baie ondersteuners voel dat hy beslis meer kanse in die Springboktrui verdien het.

Deesdae is hy en sy vrou, Ilke, in Japan waar hy vir Yamaha Jubilo in die top-liga speel. Maar net soos in Suid-Afrika is rugbywedstryde in dié land vir eers weens Covid-19 opgeskort, en die wagtydperk kan frustrerend vir professionele sportmanne wees. Juis as hulle weg van hulle land is.

“Dinge is definitief moeiliker omdat daar nie wedstryde gespeel word nie – Kwagga-hulle oefen byvoorbeeld net van Maandag tot Vrydag. Ons sal altyd na Suid-Afrika terugverlang, al is ons tans baie gelukkig in Japan. Ek dink ons mis veral die mense en die natuurlewe,” het Ilke vanoggend aan Maroela Media gesê.

Volgens Ilke gaan die lewe soos normaal in Japan voort; daar word net nie wedstryde op die sportvelde gespeel nie.

“Daar is nog geen gevalle in ons provinsie aangemeld nie, maar dit is baie frustrerend omdat geen kragmetings plaasvind nie. Die spelers het gister byvoorbeeld ’n oefenwedstryd teen mekaar gespeel net om wedstrydfiks te bly.”

Gholf is een van die gewildste maniere om die tyd te verdryf. Foto: Verskaf.

Die Smith-egpaar hou hulle besig deur in die sneeu te baljaar en sommer net die omgewing te verken.

“Ons het al ’n paar keer gaan sneeuplank ry, terwyl ons ook naby Mount Fuji bly; ons ry dan sommer net ’n ent met die kar oor naweke. Dan is gholf ook ’n gewilde tydverdryf.”

Die twee het maklik by die Japanse kultuur aangepas, juis omdat die plaaslike inwoners so behulpsaam en vriendelik is.

Gerrie Labuschagne, die voormalige skopkoning uit die Vrystaat, speel saam met Smith, terwyl hy gereeld teen ander Suid-Afrikaners soos Willie le Roux, Duane Vermeulen en RG Snyman speel.

Die Olimpiese Spele word in Julie in Tokio aangebied en ten spyte van internasionale vrese dat die skouspel afgelas sal word, vertel Ilke dat die inwoners nog baie optimisties oor die stand van sake is.

“Hier in Japan is die mense baie positief dat die Spele wel sal voortgaan, terwyl baie maatreëls in plek gestel word om die virus te beperk. Ek is ook van mening – as mens so na alles kyk wat hier gebeur – dat dit sal voortgaan.”

Die twee het ’n spesiale boodskap vir Suid-Afrikaners in die onsekere koronavirus-tydperk.

“Bid terwyl jy jou hande was, bly positief en moet asseblief nie net aan jouself dink nie.”

  • Kwagga Smith in aksie. (Foto: GB Jordaan).

    Smith het die o. 20-Springbokke verteenwoordig, terwyl hy reeds 50 Superrugby-wedstryde vir die Lions gespeel het. Hy het ook die brons medalje saam met die Blitsbokke by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro gewen.

Hy het sy Springbokdebuut ’n jaar of wat gelede teen Wallis in Washington gemaak en hy was deel van die Bokspan wat die Webb Ellis-trofee in Japan gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.