Kyk: Kiwi’s breek Wallabies-harte

Foto: Twitter.

Wat ʼn aksiebelaaide Bledisloe-toets tussen die All Blacks en die Wallabies in Melbourne!

Die Aussies het waarskynlik in die doodsnikke van die wedstryd gedink dat hulle die uitslag in die sakkie het. Nie net het hulle  ʼn agterstand van 31 – 13 uitgewis nie, maar Nic White se suksesvolle strafskoppoging het beteken dat hulle in die 78ste minuut sommer ook die voortou geneem het.

Gewis ʼn baie indrukwekkende terugvegpoging, maar helaas was ʼn oorwinning hulle nie beskore nie.

Die All Blacks het ʼn kort rukkie ná White se akkurate stelskoppoging ʼn strafskop  in die Australiërs se gebied gewen. In plaas daarvan om na die pale te korrel (en sodoende ʼn gelykopuitslag af te dwing) het hulle die kantlyn opgesoek.

Nieu-Seeland is maar Nieu-Seeland en hulle wil rugbywedstryde wen.

Die vreugdevure in Melbourne het egter hoog gebrand toe die Wallabies die bal met ʼn strafskop van hul eie teruggewen het. Tog is dit bitter vinnig weer uitgedoof.

Mathieu Raynal (skeidsregter) het op sy fluitjie geblaas en verduidelik dat Bernard Foley-hulle tyd gemors het om die bal uit te skop. Hy het terstond ʼn skrum – digby die Wallabies se doellyn – aan die All Blacks toegeken.

Vanuit die kommentaarhokkie kon ʼn mens die Aussies se ongeloof oor die beslissing duidelik hoor.

Die Kiwi’s het die onverwagse reddingsboei met al twee hande aangegryp en Jordie Barrett het oor die doellyn geduik om die wedstryd vir die besoekers met 39 – 37 te beklink.

Sodoende sal die Bledisloe-beker vir die soveelste jaar sy tuiste in ʼn Nieu-Seelandse vertoonkas vind. Maar daar gaan nog lank in Australië oor Raynal se beslissing gekla word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

N ·

As die Franse skuidregter hulle nie in die laaste minuut gehelp het nie was dit n ander storie.

vuurvliegie ·

Jy klink soos ‘n Bok ondersteuner net al die “As dit” verskonings. Hou op huil en geniet regte rugby sonder verskonings

Oros Soros ·

Goed en wel, maar wys my een ander wedstryd waar die tipe beslissing gemaak is so kort voor die einde? Daar is nie

vuurvliegie ·

Nee JD, rugby word vir ‘n volle 80min voluit gespeel.
Daar is geen verskoning om te rus en asemskep op die veld nie.

Leon ·

Reels is reels. Selfs Foley se spanmaats het vir hom gese om vinniger te maak. Hulself te blameer. Weereens wys NZ hul speel tot die laaste sekonde. Pragtig

Treurwilger ·

Die Wallabies sal hopelik nie eers die helfte soveel soos SA kla, of ‘n video oor die skeidsregter vrystel nie.

vuurvliegie ·

Hopelik dien dit as ‘n les vir die spanne wat aspris die rugby stadig maak. (Dis nou die Bokke)
Wel done aan die skeidsregter. Hopelik doen ander skeidsregters dieselfde.

Pensionaris Sedgefield ·

Ek haat dit wanneer die skeidstegter die uitkoms bepaal.

vuurvliegie ·

Law20.5 state a penalty kick must be taken without delay.
Duidelik ken die klakouse nie rugby reels nie.

MakersMark ·

Tipiese Aussie arrogansie het hul die wedstryd gekos. Ref 100% reg.

efjy ·

As jy ‘n strafskop pale toe neem het jy 1 minuut tyd. Daardie strafskop was binne 30 sekondes geneem, so ek voel die Australiers is ingedoen, maar miskien was dit ‘n mate van straf vir NW se akteurs spel teen die springbokke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.