Kyk: Kolbe is blitsig in Japan

Cheslin Kolbe het sy eerste drie in die kleure van Suntory Sungoliath gedruk. (Foto: X/Cheslin Kolbe)

Cheslin Kolbe het sy stralerskoene aangetrek en ʼn skop uitstekend opgevolg om sy eerste drie in die kleure van Suntory Sungoliath in Japan te druk.

Die Suid-Afrikaanse blits het in die 63ste minuut van die wedstryd teen die Kobe Steelers munt uit Rakuhei Yamashita se blaps geslaan om ʼn blitslopie perfek af te rond.

Dit wys jou maar net weer dat ʼn mens nooit moed moet verloor wanneer jy ʼn skop agternajaag nie; selfs al was die skopper se poging maar bra doelloos.

Die Sungoliath-span het die kragmeting met 44 – 36 beklink.

Die 30-jarige Kolbe het verlede jaar ʼn kontrak met die Japanse klub onderteken nadat hy vir ses jaar sy vernuf in Frankryk – vir Toulon en Toulouse – uitgestal het.

“Ek is baie opgewonde om te bevestig dat ek deel van die Suntory Sungoliath-opset sal word. Dit is ʼn nuwe hoofstuk en uitdaging in my loopbaan en ek wil almal bedank wat die skuif moontlik gemaak het,” het Kolbe destyds gesê.

In ander wedstryde het Kwagga Smith ʼn barshou vir die Shizuoka Blue Revs in hul oorwinning van 62 – 13 teen Honda gespeel.

Die Springbok-losvoorspeler het twee drieë in die kragmeting gedruk en hy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Uitslae van die naweek se wedstryde in Japan:

Black Rams 41 – 14 Kintetsu Liners

Wild Knights 43 – 27 Toyota Verblitz

Suntory Sungoliath 44 – 36 Kobe Steelers

Shizuoka Blue Revs 62 – 13 Honda

Canon Eagles 40 – 35 Mitsubishi DynaBoars

Toshiba Brava Lupus 24 – 20 Kubota Spears.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.