‘Leicester is ’n spesiale klub,’ sê Pollard

Suid-Afrika se Handré Pollard sal vir die 2022/’23-seisoen sy eersterangse rugby vir die Leicester Tigers in Engeland speel. Foto: Andy Buchanan/AFP.

Dit is amptelik. Handré Pollard sal sodra sy kontrak met Montpellier verstryk, sy rugby in die kleure van Leicester Tigers in Engeland speel.

En hoewel daar ’n paar aanbiedinge van ander klubs was wat sy spaarvarkie vetter sou gemaak het, het Steve Borthwick (hoofafrigter) en die klub se ryke geskiedenis hom op Leicester laat besluit.

“Dit maak my opgewonde om deel te wees van dit wat tans onder Steve se bekwame toesig by die klub gebeur. Ek is egter vir nog sewe maande deel van die Montpellier-opset en wil graag my tyd hier op ’n hoë noot afsluit,” het Pollard gesê.

Die Tigers is tans onoorwonne ná nege Premierligawedstryde, maar hulle was laas in 2013 die beste in Engeland; iets wat Pollard saam met Borthwick-hulle wil regstel.

Verder is daar natuurlik ook ’n hele paar bekende gesigte in die Tigers-groep.

“Ek het saam met Hanro (Liebenberg), Marco (van Staden) en Eli (Snyman) by die Bulls gespeel, terwyl Jasper Wiese natuurlik ook deel van die Springbokspan is. Dan ken ek vir Nemani Nadolo sedert sy dae by Montpellier.”

Volgens Pollard het ’n onlangse gesprek met Liebenberg ná die Bokke se toets teen Engeland ook gehelp om uiteindelik op Leicester te besluit.

Suid-Afrika se Handré Pollard. Foto: Charly Triballeau/AFP.

“Hanro was baie eerlik en hy het vir my verduidelik waarom Leicester só ’n uitstekende klub is om voor te speel. Dit is ’n baie lekker vooruitsig om deel van ’n sterk span te word, maar die wete dat goeie spelers en vriende ook deel van die opset is, is ongetwyfeld die kersie op die koek.”

Borthwick, wat in sy speeldae 57 toetse vir Engeland gespeel het, meen op sy beurt dat die Springbok-losskakel ongetwyfeld waarde tot die Tigers sal toevoeg.

“Hy is eerstens ’n speler van wêreldgehalte en ’n losskakel wat nie sommer vir iemand op die veld terugstaan nie. As jy na sy loopbaanrekord kyk – hy was al in eindstryd-aksie en hy het saam met sy span met die silwerware weggestap,” het Borthwick gesê.

Die Engelsman behoort te weet waarvan hy praat: hy was deel van Engeland se afrigterskorps wat magteloos moes toekyk hoe die Springbokke met die Webb Ellis-trofee in Japan van die veld stap.

“Handré is ’n uiters mededingende rugbyspeler wat wedstryde wil wen. Terwyl ’n mens met hom gesels, was ek verstom oor hoe graag hy nog as ’n speler wil verbeter. Ek het met ’n paar mense oor hom gepraat en almal sê dieselfde dinge: Hy is ongelooflik mededingend en professioneel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Moedeloos ·

Ek hoop hy vaar beter as in sy laaste Springbok pogings. Hy was glad nie op standaard nie. Miskien van te veel rugby speel en geen ordentlike rus kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.