Leinster vergroot VRK-voorsprong

(Foto: Leinster Rugby/Facebook)

Leinster het Munster gisteraand met 34-19 geklop en boonop ʼn bonuspunt gekry vir vier drieë. Dit beteken die Ierse span is nou tien punte voor die res van die spanne op die punteleer van die Verenigde Rugbykampioenskap.

Joey Carbery het vier strafskoppe vir Munster in die eerste helfte oorgeklits en die rustydtelling was 14-12 in Leinster se guns. In die tweede helfte was Munster se enigste punte ʼn verdoelde drie van Springbok Damien de Allende.

Leinster se kaptein Garry Ringrose het sy span se enigste drie van die eerste helfte gedruk. James Lowe het na rustyd twee keer gaan druk en Jimmy O-Brien het gesorg vir die vierde drie.

In nog ʼn laat wedstryd gisteraand het die Scarlets vir Cardiff met 35-20 geklop. Scarlets het vir 36 minute van die tweede helfte net 14 spelers op die veld gehad. Agsteman Sione Kalamafoni het ʼn rooi kaart gekry vroeg in die tweede helfte vir ʼn hoogvat op Gwilym Bradley.

Volgende naweek is belangrik vir die Suid-Afrikaanse spanne en hul posisie op die punteleer. Die Stormers pak die Bulle Saterdagmiddag om 14:00 in Kaapstad. Die Haaie kan om 16:05 ʼn opdraande stryd teen die Leeus in Durban verwag want hulle is stert in die lug ná ʼn paar goeie vertonings.

In die Engelse Premierskap speel London Irish vanmiddag om 16:00 teen Harlequins. Die Suid-Afrikaner Benhard Janse van Rensburg is op binnesenter in London Irish se beginspan met Marcel van der Merwe op die reserwebank. André Esterhuizen is op binnesenter vir Harlequins en Wilco Louw is onder die plaasvervangers.

Harlequins is derde op die punteleer en London Irish in die agste plek. Leicester Tigers het ʼn stewige agt punte voorsprong op die punteleer met Saracens in die tweede plek. Saracens het Sale Sharks Vrydag met 18-12 geklop.

Exeter Chiefs is in die vierde plek. Hulle het die span heel onder op die punteleer, Bath, gister met 42-22 getrap.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.