Liefdadigheidswerk lê Vlok na aan die hart

Vlok Cilliers het weer ’n suksesvolle “Cycle with VlokSkop”-inisiatief van stapel gestuur. (Foto: Verskaf)

Frankryk speel vanjaar gasheer vir die Wêreldbeker-toernooi en die Hane is ongetwyfeld een van die gunstelingspanne om die Webb Ellis-trofee omhoog te hou.

Maar die hart van die man aan die stuur van Thomas Ramos en Antoine Dupont se skopvaardighede brand warm vir liefdadigheidswerk in Suid-Afrika.

Vir Vlok Cilliers begin en eindig hulp nie net by mooipraatjies en beloftes nie. Hy doen soveel meer danksy die VlokSkop-stigting.

Die voormalige WP-speler het onlangs juis weer ʼn groep sakemanne op ʼn onvergeetlike fietsryavontuur in die Vanrhynsdorp-omgewing geneem om geld vir sy liefdadigheidsprojekte in te samel.

ʼn Spoggerige veilingsaand het ook tot die algehele sukses bygedra en daar is amper R500 000 ingesamel.

(Foto: Verskaf)

“ʼn Mens se nalatenskap is belangrik en jy moet probeer om ʼn verskil te maak. Jy kan nie net vir jouself lewe nie,” het die 54-jarige skopghoeroe tydens ʼn vorige Tekkies-en-Toks-aand by Hoërskool Eldoraigne in Pretoria gesê.

Volgens Cilliers lê jong mense hom na aan die hart. Saam met Helpende Hand identifiseer hy hulpbehoewende studente sodat hy hulle kan bystaan om hul studieskuld te vereffen.

Vir die gewilde skopafrigter is finansiële hulp egter nie genoeg nie. Van die studente het ʼn ouer aan die dood afgestaan en hy poog om ook op ʼn geestelike vlak waarde tot hul lewe toe te voeg.

“Ek wil graag ʼn mentor vir die studente wees. Ons stuur gereeld WhatsApp-boodskappe vir mekaar, terwyl my vrou ook saam met hulle koffie gaan drink het. Ons wil nie die rol van hul pa of ma oorneem nie, maar ons wil daar wees vir hulle,” het hy gesê.

Maar terug na die komende Wêreldbeker-toernooi.

Cilliers en die res van die Franse afrigtersgroep vier die Hane se spogvertoning op Twickenham. (Foto: Verskaf.)

Die Hane het vroeër vanjaar vir Engeland met 53–10 op Twickenham afgeransel en baie kenners meen dat hulle die silwerware reeds met een hand vashou.

Volgens Cilliers het die keerpunt vir die Franse ná die 2019-Wêreldbeker in Japan gekom.

“Die span het toe bymekaargekom en dinge soos dissipline en bestendigheid aangeraak. Hulle kan dit byvoorbeeld nie bekostig om die een week met die All Blacks af te reken en die volgende week teen Kanada vas te val nie.”

Frankryk se Wêreldbeker-bepalings:

8 September: Frankryk teen Nieu-Seeland

14 September: Frankryk teen Uruguay

21 September: Frankryk teen Namibië

6 Oktober: Frankryk teen Italië

14 Oktober: Uitspeelwedstryde begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.