In wat as ʼn “ligte paleisrevolusie” bestempel word, het die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) by Woensdag se verkiesing drie nuwe vise-presidente gekry.
Dave Bergman van Centurion, wat jare lank in dié posisie gedien het, en Sias van den Berg, die gewese voorsitter van Tukkies, het onder andere in die slag gebly.
Theuns Reynolds, wat Van den Berg by Tukkies vervang het, en Ian Herbst, die Naka Bulle se voorsitter, is die nuwe visepresidente uit die senior klubs.
Johan Beukes (Tuine) het Johnny Jaftha (Dragons) as visepresident vir die reserweligaklubs uit die kussings gelig.
Willem Strauss (Quins-Bobbies-rugby) het sy pos as visepresident vir die senior klubs behou, en Peter Moila syne as visepresident vir die reserweligaklubs.
Blikkies Groenewald (die visepresident vir afrigters, skeidsregters, oudspelers en die mediese vereniging) en Ferdi Niemand (die visepresident vir skole, jeugklubs en rolstoelrugby) is onbestrede verkies.
Dit geld ook Henry Adendorff (Dragons), die bond se adjunk-president.
Die president, Gert Wessels, se termyn duur tot 2018.
Die BBRU het net vier Carlton-A-klubs (Centurion, Naka Bulle, Quins-Bobbies-rugby en Tukkies) oor nadat die Dragons, wat die afgelope twee jaar in die liga meegeding het, besluit het om na die Carlton-B-liga terug te keer. Rustenburg Impala, wat in die BBRU se senior liga speel, is ʼn Luiperds-klub.
Limpopo-streek
Wat die BBRU se Limpopostreek betref, lyk die bestuur so –
Adjunk-president: Henri van Aswegen.
Visepresidente: Tony Varela (Noordstreek), Wynand Booysen (Suidstreek), Zanie Zanendaba (Swart en voorheen benadeelde klubs), Gustav Grobler (skole) en Johan van Huyssteen (afrigters, skeidsregters en mediese vereniging).
Grobler vervang Eben Lingenfelder as visepresident.
Ag nee dit moes veel groter gewees het, die groot probleem sit nog agter die stuur van sake, met hom daar het hulle niks vermag nie
ń Boom kan gesnoei en versorg word. Indien die wortelstelsel vrot is, is alles verniet. Hulle moes ontslae geraak het van Barend van Graan! Die oud spelers moet weer ń sê by die Bulle kry.