Sewe drieë teen twee vertel die storie van die Lions se oorwinning oor die Reds in Johannesburg, maar daar was ook slordige balbeheer tussen die stukkies Lions-juweeltjies deur en die frustrasie van die Reds wat nie regtig rugby wou speel nie.
Die Lions het met 44-14 gewen nadat die besoekers die laaste 35 minute met 14 man moes klaarkom omdat Quade Cooper vir ʼn hoogvat met ʼn swaaiende arm ʼn rooikaart gekry het. Hy moes eintlik al 15 minute vroeër ʼn gele gehad het en was nie die enigste oortreder wat deur die beamptes op en langs die veld oorgesien is nie.
Die Reds se vleuel Eto Nabuli het ook ʼn geelkaart gekry net voor Cooper afgejaag is en moes toe vir sowat nege minute met 13 man speel.
Desondanks het die Reds in die wedstryd, en veral die tweede helfte, meer besit gehad en ook meer omkeerbesit as die Lions gewen, maar nie werklik geweet wat om daarmee te doen nie. Die eerste 20 minute was nagenoeg die enigste tydjie wat hulle werklik met aanvalle in die prentjie was.
Van die grootste pluspunte in die wedstryd was die paar aanvalle waar die Lions soos verlede jaar gelyk het; die vier drieë van die vleuel Cornall Skosan, waarvan een uitstaande was toe hy geskop, gevang en neergelê het doellyn toe.
Daar was ook die debuut van die 19-jarige Madosh Tambwe, ʼn groot, sterk en blitsige vleuel wat in Kinsasha in die DRK gebore is en op Parktown Boys High skoolgegaan het. Hy gaan dit ver bring en is reeds in die Junior Bokke se oefengroep.
Faf de Klerk was soos altyd deurentyd aan die gang en het heelwat goeie goed gedoen, maar daar was darem ook ʼn paar aangeë wat ʼn mens nie van ʼn Springbok-skrumskakel verwag nie.
Naastenby dieselfde geld vir sy skakelmaat Elton Jantjies, wat skitterende goed op die aanval gedoen het, ʼn paar keer netjies in ooptes in geskop het, maar ook vir ʼn vrot aanslaan en swak aangeë verantwoordelik was. Trouens, op sy eie manier het elke speler sy kant gebring met los puntjies waaraan geskaaf moet word.
Die Lions se skrums was werklik goed, selfs toe die Reds nog al hul spelers gehad het. Dit gaan weer die kern van heelwat van die Lions se spelpatroon vorm.
Die hele voorry, Jacques van Rooyen, Malcolm Marx en Ruan Dreyer, het boonop die veld vol gespeel en dit was goed om die losmanne weer tussen voor- en agterspelers te sien skakel.
Ook in die lynstane het dit goed gegaan en die mooi afwisseling van voorom skil het vir Jaco Kriel ʼn drie gebring.
Dit was die Lions se agste opeenvolgende oorwinning op hulle tuisveld. Dit was goed, maar nog nie hul beste nie. Maar dit sal kom …
Puntemakers –
Lions (15) 44: Drieë: Courtnall Skosan, Jaco Kriel, Rohan Janse van Rensburg, Malcolm Marx. Doelskoppe: Elton Jantjies 2, Andries Coetzee. Strafdoel: Jantjies.
Reds (0) 14: Drieë: Duncan Paia’aua, Taniela Tupou. Doelskoppe: Jake McIntyre 2.
LIONS!!!!!!
Go lions