‘Maklik’ om dié Lions-groep te motiveer

Edwill van der Merwe is een van die opwindende spelers in die Lions-groep. (Foto: GB Jordaan)

Die Lions-bestuur het ʼn onveranderde span gekies vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen die Dragons op Ellispark.

Die Johannesburgers brul weer met mening nadat hulle verlede naweek vir Zebre met 61 – 19 oorrompel het en dit was veral die span se driedrukvaardighede wat hul ondersteuners opgewonde maak.

Opwindende spelers soos Quan Horn, Edwill van der Merwe, Richard Kriel, Henco van Wyk en Morne van den Berg sal nou weer ʼn slag in die agterlyn wil slaan, terwyl Asenathi Ntlabakanye, JP Smith en PJ Botha vir stewige skrumvertonings sorg.

“Dit is glad nie moeilik om die spelers te motiveer nie. Ons het vroeër een of twee naelbytwedstryde verloor, maar ons het nogtans ʼn paar punte gekry. Ons moet nou net toesien dat ons met dieselfde energie teen die Dragons speel,” het Barend Pieterse, voorspelerafrigter, gesê.

Hoewel die Walliese besoekers verlede Saterdag met 69 – 14 teen die Sharks verloor het, meen Pieterse dat hulle allesbehalwe kanonvoer sal wees.

“Die wedstryd begin om 17:00 en ons kan nie soos verlede week op die warm son reken om dinge in ons guns te swaai nie. Ons sal op ons beste moet wees en die dinge waaraan ons op die oefenveld gewerk het in ʼn wedstrydsituasie uitstal.”

Lions: Quan Horn (heelagter), Richard Kriel (regtervleuel), Henco van Wyk (buitesenter), Marius Louw (kaptein en binnesenter), Edwill van der Merwe (linkervleuel), Sanele Nohamba (losskakel), Morné van den Berg (skrumskakel), Francke Horn (agtsteman), Ruan Venter (flank), Emmanuel Tshituka (flank), Ruben Schoeman (slot), Ruan Delport (slot), Asenathi Ntlabakanye (stut), PJ Botha (haker) en JP Smith (stut). Plaasvervangers: Jaco Visagie, Corné Fourie, Ruan Smith, Willem Alberts, Hanru Sirgel, JC Pretorius, Jordan Hendrikse en Rabz Maxwane.

Lions se Verenigde Rugbykampioenskap-uitslae:

Stormers 35 – 33 Lions

Edinburgh 17 – 16 Lions

Benetton 15 – 10 Lions

Lions 24 – 23 Scarlets

Ulster 24 – 17 Lions

Lions 61 – 19 Zebre

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.