Matera sê sy gesin word geteister ná twiets

Pablo Matera. Foto: Christiaan Kotze / AFP.

Die Argentynse rugbykaptein Pablo Matera het aan ʼn Franse koerant gesê dat sy gesin onder sosialemedia-boelies deurgeloop het ná van sy vorige Twitter-inskrywings op die lappe gekom het.

’n Storm het onlangs oor Matera en twee van sy spanmaats losgebars nadat xenofobiese en rassistiese Twitter-inskrywings – wat die spelers tussen 2011 en 2013 gemaak het – gedurende die Rugbykampioenskap uitgekrap is.

Matera is ook van sy kapteinskap gestroop, maar die Argentynse Rugby-unie (UAR) het later ’n ommeswaai gemaak en gesê dat die spelers se skorsings opgehef is.

Nou het die 27-jarige weer eens om verskoning vir sy destydse optrede gevra.

“Dit was doodeenvoudig ’n onverskillige gebruik van sosiale media saam met my hoërskoolvriende. Ek wil mense graag laat weet dat nie enige van daardie woorde glo nie en dat dit hoegenaamd nie my waardes verteenwoordig nie,” het Matera gesê.

Die gewraakte Twitter-inskrywings is tussen 2011 en 2013 gemaak en Maroela Media het berig dat Matera destyds onder meer geskryf het dat hy met sy voertuig oor swart mense sal ry, terwyl hy ook negatiewe kommentaar oor die inwoners van Paraguay en Bolivia gelewer het.

“Toe ek die inskrywings gemaak het, was ek ’n onvolwasse en opstandige mannetjie. Daar het sedertdien egter reeds baie water in die see geloop en ek het baie as ’n individu gegroei.”

Sy gesinslede is egter gereeld aan die ontvangkant van striemende boodskappe en hy is jammer oor die ongerief wat dit veroorsaak het.

“Dit is vir my die ergste – om hulle onverdiend by hierdie aaklige situasie te betrek.  Die belangrikste is om te besef dat ’n fout gemaak is, om vergifnis te vra en aan te beweeg,” het hy afgesluit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.