Mening: Dís mos wat outydse veggees kan vermag!

Die Proteas het die toetsreeks met 2-1 beklink. Foto: Hansie Linde.

Was dit nou nie alte lekker om te sien hoe die veggees waarvoor Suid-Afrika so bekend is, skielik weer uitgestal word nie!

ʼn Mens het impulsief teruggedink aan van die groot oomblikke van glorie vir Suid-Afrikaanse spanne nadat hulle voor die tyd afgeskryf is of met uitstaan-vertonings vorendag gekom het nadat die Proteas Indië in die toetsreeks (2-1) en in die eendaagse reeks (3-0) geklop het.

En dié keer was die rasse-groepering waaroor Krieket Suid-Afrika (KSA) so luidkeels te kere gaan, allermins teenwoordig.

Wat die reekssege merkwaardiger maak, is dat Indië in Desember as die nommer een toetsland ter wêreld hier aangekom het.

▪ Sommer so uit die vuis uit het ek na afloop van dié reeks onwillekeurig teruggedink aan van die groot verrassings in ons sportverlede wat aan Suid-Afrika se erkende veggees toegeskryf kan word.

Die jongste geval is seker die wen van die Webb Ellis-trofee in 2019 toe Rassie Erasmus se Bokke Engeland in die Wêreldbeker-eindstryd getroef het nadat hulle in die groepsfase deur die All Blacks geklop en toe heeltemal afgeskryf is.

Pieter Hendriks. Foto: YouTube.

In 1995 het daardie skitterdrie van Pieter Hendriks in die openingswedstryd teen die Wallabies die Bokke op pad na Wêreldbeker-glorie geplaas. Dit het ook tot gevolg gehad dat die sportwêreld kennis moes neem van die herrysing van Bokrugby nadat daar sedert die terugkeer na toetsrugby in 1992 meer teleurstellings as vreugde was.

Francois Pienaar en sy troepe het in 1995 in ʼn onvergeetlike eindstryd van vasbyt en verdedig ná ekstra tyd met Joel Stransky se skepdoel met 15-12 geseëvier.

▪ En wat van die vroeëre oorwinnings in veral die rugbyreekse teen die All Blacks in 1960, 1970 en 1976?

Daar moet onthou word dat dit in die dae vóór professionalisme was toe veral Suid-Afrika en Nieu-Seeland se provinsiale spanne gereeld teen toerspanne gewen het.

Dit was goeie beplanning en veggees wat Suid-Afrika in veral 1960 en 1970 laat wen het. Vasbyt op sy beste … Die teenstanders in ʼn kopklem kry … Spook tot die einde …

Ná 17 opeenvolgende wentoetse (toe nog die rekord) het Brian Lochore se toerspan in 1970 op Loftus Versfeld slae gekry in die toets wat veral vir Joggie Jansen se plettervat op Wayne Cottrel onthou word.

Moet ook nie die 1960-wenreeks vergeet hoe Wilson Whineray se veelgeroemde span op Ellispark met 13-0 in die eerste toets getroef is toe die “Houtperd”, vleuel Hennie van Zyl, twee maal gaan druk het nie. Dit was nadat die twee Natallers Keith Oxlee en Mike Antelme hul provinsiale truuks met ʼn binne-aangee uitgehaal het en die All Blacks se agterlyn deurmekaar gelaat het.

SA-krieketspanne maak óók so!

Die realiteit van veral die wen van die toetsreeks teen Indië is al ʼn week of twee gelede verteer, maar vir die Proteas kan ʼn mens steeds, en in die toekoms ook, oor dié oorwinning sê: Vatso!

Dit is boonop behaal te midde van die onbeholpenheid van KSA wat eers van die een groep bestuurders na die ander rondgedobber het, en toe ander slaanstokke gekry het om die sport te verpolitiseer.

In die besonder moet jy die hoed vir Dean Elgar afhaal; die onbesonge kolwer wat as kaptein nadergehark is en toe die relatief middelmatige span in die spore van Suid-Afrika se grotes van weleer laat loop het.

(Ek bespreek later in die artikel sy invloed op die span en die spelers se reaksie daarop.)

Oorwinnings ná vasbytvertonings

Uit ʼn krieketoogpunt het Jack Cheetham se Springbokspan, soos hulle tot 1970 genoem is, in die wegreeks van 1952/5 teen Australië die tuisspan met twee seges elk in die vyftoetsreeks geskok. Vier jaar later het Cheetham se span – toe onder kaptein Jackie McGlew omdat toerkaptein Cheetham beseer was – ook twee opeenvolgende oorwinnings teen Engeland gehad. Dié keer het hulle egter die vyfde toets, en daarmee die reeks, 2-3, verloor.

Kom ons vergeet ook nie van die skok wat die Aussies in 1967 in Suid-Afrika gekry het toe Peter van der Merwe se span die reeks met 3-1 gewen het nie. Heelparty lede van hierdie span het ook in 1970 met Bill Lawry se Aussies in Suid-Afrika afgereken.

Die Springbokke van Ali Bacher het ál vier toetse gewen met moontlik Suid-Afrika se heel sterkste span nóg.

Moet ook nie die oënskynlik “onrealistiese” Suid-Afrikaanse verwagtinge vergeet wat in oorwinnings onder kapteins Kepler Wessels, Hansie Cronjé en Graeme Smith geëindig het nie!

Kaptein Dean Elgar

Dean Elgar. Foto: © Christiaan Kotze/C& C Photographic Agency

Elgar – nie die soort kolwer waarvoor mense myle sal stap om te sien kolf nie – is ʼn vegter op die patroon van twee van Suid-Afrika se grotes van weleer: Dudley Nourse (34 toetse teen 53,81 gemiddeld) en Jackie McGlew (34 toetse teen 42,06 gemiddeld).

Soos Elgar het hulle ook (of is dit meestal?) soms bitter stadig gekolf, maar die boulers gefrustreer en dikwels snelballe aan die lyf gevoel eerder as om wilde houe te speel.

Die huidige kaptein se kolfwerk is ʼn voorbeeld van veggees, vasbyt, weier om in te gee – die ou Engelse “guts” en die hoofrede vir die yslike verrassing wat die krieketwêreld laat regop sit het.

Elgar is presies die leier wat Suid-Afrika in dié stadium van die KSA se raadskamergemors nodig het. Sy kolfwerk, selde opwindend, is dikwels stroef en meer as net stadig, maar besorg aan die boulers meer as net ʼn frustrasie – hulle word raadop en moeg.

Hy het ook die span, te midde van spanning tussen die spelers en die KSA, in die drie toetse saamgesnoer; iets wat beslis van sy leierskap getuig.

Twee nulletjies in sy toetsbuiging

Elgar, wat in Welkom gebore is en daar aan St. Dominic’s skoolgegaan het, is terloops een van die min spelers wat in hulle toetsbuiging vir twee nulletjies uitgehaal is. Dit was in 2012 in Perth teen Australië.

Elgar het in sy 72 toetse reeds 4 582 lopies teen 39,54 lopies per beurt aangeteken. Dit sluit 13 honderdtalle en 19 vyftigtalle in.

Proteas klim op ranglys

Suid-Afrika was met die aanbreek van die reeks teen Indië maar in die sesde plek, met Pakistan (vyfde) wat ook voor die Proteas was.

En toe kom wat deur baie as ʼn heel middelmatige SA-spannetjie beskou is en gee Indië met 2-1 bloedneus in die toetse nadat die toerspan sy eerste wedstryd ooit op SuperSportpark gewen het.

Twee toetse later was Indië, ná tien toere deur Suid-Afrika, egter steeds sonder ʼn reeksoorwinning op plaaslike bodem en het hulle na die derde plek afgesak. Die Proteas, nou in die vyfde plek, het tot bo Pakistan opgeskuif.

toets teen Bangladesj verloor het, en die Aussies wat Engeland vermorsel het en nou nommer een op die ranglys is.)

RUGBY: SPELERVERLIESE AAN RUSLAND

In hierdie dae waar sportseisoene aaneen loop, in die proses soms omgedraai word, wedstryde afgestel of speeldatums verander word, en waartydens toeskouers in Suid-Afrika vir hul sportpret uitsluitlik op televisie aangewese is, het daar die afgelope tyd heelwat interessante rugbydinge gebeur.

Kom ons fokus op die nóú en vergeet van die ou koeie in die sloot soos die Britse Leeus wat hier verloor het, die omstredenheid en polemiek wat gevolg het, asook gebeure om die toer. Kom ons neem ook nie die Covid-impak op wedstryde en toeskouergevolge in ag nie.

rugbybal-3.jpg

Argieffoto.

Verlies van Suid-Afrika se voorste spelers, insluitende die bestes in ons klub- en provinsiale stelsels, slaan ons rugby kwaai, veral nou in ʼn tyd waar soveel ander dinge die aandag van die spel weggetrek het – soos onder meer virtuele sport- en rekenaarspeletjies.

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU), skryf op sy WhatsApp-groep dat sowat 45 klubspelers van ons 14 bonde tans in Rusland speel.

Hulle is miskien nie die keur van ons rugby nie, maar besorg die gehalte-diepte waaruit spanne soos die BBRU, Goue Leeus, Sharks en die WP hul Curriebekerspanne moet aanvul aangesien die Curriebekerreeks en die Verenigde Rugbykampioenskap gelyktydig gespeel word.

▪ Daar is darem ʼn sprankie hoop dat ons ʼn paar van die sowat 240 voorste spelers wat in die Europese ligas se eerste spanne speel binne die volgende jaar of so sal terugkry – en ook van die ander ongeveer 300 spelers wat in laer ligas of in minder gerekende rugbylande soos die VSA, Georgië, Roemenië en van die ander Amerikaanse lande speel.

Dit mag dalk gebeur omdat salarisse in baie lande afgeskaal gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.