Mening: Klubrugby trek swaar met die baie beroepsrugby

Foto ter illustrasie. (Foto: Tim Moolman Photo)

Ek het die afgelope naweke na die toeskouergetalle op Ellispark en Loftus gekyk, waar die franchise’e en ook provinsiale spanne gespeel het. En dit het my aan die dink gesit oor klubwedstryde van veral die Westelike Provinsie, Noord-Transvaal en Natal in die sewentigerjare en ook in die tagtigs.

Daar is hedendaags eenvoudig net te veel rugby om dit te verwag, al kon jy die afgelope naweek by Loftus net R25 vir drie eersterangse wedstryde betaal en al was daar volgens hul skatting 20 000 toeskouers teenwoordig. Maar die vorige naweek was toeskouers op Ellispark teleurstellend toe daar ook twee provinsiale wedstryde was en die Lions steeds ʼn uitspeelkans in die VRK gehad het.

Dink net, twee oorsese spanne – die een redelik vrotsig (Zebre) en die ander (Leinster) heelwat  verswak vir die Suid-Afrikaanse toer, was die teenstanders. Maar wat vir die toeskouers belangrik moes wees, is dat die Bulls en die Lions albei die geleentheid gehad het om moontlik na die eindrondes van die Rugbykampioenskap deur te dring.

Die min toeskouers by die Lions en die so-so skare by die Bulls vir drie wedstryde op een dag, was myns insiens teleurstellend.

Waar is die dae toe die toeskouers vir so ʼn geleentheid op Loftus sou toesak…

Intussen het die land se klubrugby so stil-stil tussendeur ons vyf franchise’e se vier toernooie (die Curriebeker, die VRK, die Europese Kampioenskap en die Europese Uitdaagtoernooi) aan die gang gekom… en daar is gewis gevaarligte wat vir plaaslike rugby flikker. Spelers én toeskouers moet hulle nie blindstaar teen die voorste reekse nie.

Baie ondersteuners beskou die Curriebeker nie meer as iets om na te streef nie. ʼn Mens hoef net te wys na die geskiedenis van die trofee, die oudste ter wêreld waarom provinsiale/ klubspanne sedert 1982 meeding, en na die vreugde van die Pumas verlede jaar toe hulle teen die einde die wenpunte teen Griekwas behaal het.

Daar is erns by ál ons spanne om die Curriebeker te wen. Dit is ook by die sogenaamde franchise’e die geval en die WP, die Bulls en die Sharks moet nou begin uithaal om die indrukwekkende Pumas en die Cheetahs te klop. Dié twee spanne is tans die voorlopers, met ʼn hele aantal spelers wat die bonde diepte bewys het. En die twee voorlopers het bewys dat hulle nie hierjy spanne is nie.

Wat veral die oog vang is dat hulle, benewens goeie rugby, ook stewige tuis-ondersteuning het.

Maar die baie rugby, wat nou winter en somer gespeel word, en ook televisie-uitsendings van vername wedstryde elders, het klubs se ondersteuning ʼn kwaai knou gegee.

1970’s –Televisie druk klubrugby dood

Ek onthou nog die sewentigerjare toe die destydse SA Rugbyunie net toestemming vir uitsending van die tweede helfte van provinsiale wedstryde aan die unies toegestaan het en televisie in Suid-Afrika nog ʼn nuwigheid was. Die rede? Die SAUK wou toe só hul kykertalle vermeerder.

En ek onthou dit soos gister hoe Loftus Versfeld se drie buitevelde, waar duisende toeskouers hul Carltonliga-klubs en selfs (op die D-veld) die onder twintigs ondersteun het, skielik feitlik leeggeloop het wanneer die tweede helfte van Noord-Transvaal se Curriebekerwedstryde op televisie vertoon sou word.

Dit was tóé al hartseer, omdat Loftus se hoofveld gewoonlik sowat 10 000 of so toeskouers getrek het ná die Carltonbeker-wedstryde wat op die vier buitevelde afgehandel is – veral wanneer van die topspanne soos Tukkies en Polisie op die hoofveld slaags was.

Die leegloop-probleem het mettertyd vererger, veral nadat plaasvervangers deel van die spel geword het. Die tweede en derde spanne se manne moes op die bank sit ingeval van ʼn besering aan een van die eerste of tweede span se spelers.

Toe het klubrugby se bepalings, met dikwels al ʼn klub se spanne, na die klubs verskuif, waar al die spanne van ʼn klub teen die besoekers gespeel het en toeskouers darem op die klubhuise se TV-stelle iets van die provinsiale wedstryde kon sien.

Daar is nou by die meeste stedelike unies ʼn soortgelyke stelsel, maar die realiteit is dat die klubs se ondersteuning nie naastenby is wat dit voor die koms van televisie was nie.

Natuurlik ondersteun ʼn kleinerige groepie steeds hul klubs as toeskouers, maar die dae is verby dat daar ʼn massa ondersteuners of sommer rugbyliefhebbers is wat ver sal ry om ʼn taai wedstryd te sien soos in die jare toe die uithaler-Bokke Boland Coetzee en Morné du Plessis onderskeidelik die Maties en Villagers teen mekaar aangevoer het.

17 000 op Nuweland

Nuweland-stadion (Argieffoto).

Ek het hierbo na Loftus verwys. Ek onthou ook die WEEKSDAG in 1967, toe die eerste drie spanne van die Maties en Ikeys in die middel van die werksweek in die eindrondes van die WP-ligas kragte gemeet en voor sowat 17 000 mense op Nuweland opgedraf het.

Dis hartseer. Ons klubrugby was nog altyd sterk en met goeie ondersteuning. En dit was deur die jare die plek waar jy jou merk moes maak.

Die televisie en amper voltydse Saterdagrugby, waarby Suid-Afrikaanse provinsiale spanne en franchise’e betrokke is, het vir die keerom gesorg.

Klubrugby bly belangrik. Waar gaan spelers wat laat ontwikkel raakgesien word? Daar is vele ander in Suid-Afrika wat ook groot drome en baie talent het, maar nie in die Varsitybeker kan speel nie.

Wat van spelers wat beseer was, of vir ʼn minder bekende rugbyskool of om ander redes die Cravenweekspan misgeloop het? En spelers wat nooit deur hul provinsies of die nasionale keurders raakgesien word nie?

Marcell Coetzee lei die Bulls op die veld. (Foto: GB Jordaan.)

Marcell Coetzee, wat op 1 Mei terug is van sy Rugby-‘sabbat’ in Japan, is ʼn goeie voorbeeld. Die Bulls se kaptein het nie Cravenweek gespeel nie en toe ná skool by die Sharks se Rugbyakademie ingeskryf, waar hy raakgesien is.

Dit kan in Pretoria ook gedoen word, waar feitlik elke eersteliga-klub ʼn eie akademie met professionele afrigting het.

Die Varsitybeker vang natuurlik vele spelers op wat dan verder deur kontrakte en professionele afrigting ontwikkel word.

Om te sien hoe die klubstelsel ingespan kan word, kan ʼn mens veral die vyf franchise’e as voorbeeld gebruik. Die Stormers, Sharks, Bulls en Lions moet vanweë hul betrokkenheid by die VRK-reeks en die uitspeelrondes van onderskeidelik die Rugbykampioenskap (die Heinekebeker) en die Rugbyuitdaagreeks genoeg spelers van gehalte hê om tegelykertyd twee spanne op die veld te kan hê.

Die Cheetahs het ook bostaande probleem gehad toe sy uitsoekspelers vir die Rugbyuitdaagreeks hul tuisveld in Italië moes maak.

Boland en SWD

In die Boland, met sy magdom spanne en die SWD wat ook ʼn goedgestruktureerde klubkompetisie het, is daar hope onontginde talent. Dit is ʼn belewenis om daar rugby te kyk, met busse vol toeskouers wat by wegwedstryde opdaag.

ʼn Mens kan sonder teenspraak sê dat hierdie twee bonde se klubrugby alle ander rugby vir hul ondersteuners, insluitende die provinsiale spanne, oorheers. Miskien selfs te veel só!

Maar hulle moet, soos die Bulls, Stormers en Sharks, ook voorste spelers uit die klubs begin lewer en weer hul regmatige plek in ons eersterangse rugby begin inneem…

Die Gouebeker, wat later in die jaar gespeel word, gee vir die beste klubs in al ons rugbyprovinsies geleentheid om teen die bestes op daardie vlak te speel – en ʼn hele paar manne sal weer daar vir hoër diens opgetel word.

Onder 20-klubspanne kry nasionale blootstelling

So stil-stil het die Blou Bulle Rugbyunie, in samewerking met Uxi Sports International Rugby, ʼn nuwe  Oorgrenskompetisie vir onder 20-klubs daargestel.

Daar neem 21 spanne aan die nuwe kompetisie deel – sewe in elk van die drie afdelings Noord, Suid en Sentraal. Die 21 spanne is van die Blou Bulle, Lions, Pumas, Griekwas, Valke, Luiperds en die WP.

Die eerste ronde wedstryde is verlede naweek, as afskop tot die kompetisie, onderling deur Blou Bulle-klubs gespeel.

Ná afhandeling van die ligafase, word die reeks se eindstryd op 30 September gespeel nadat die voorste spanne in ʼn kwarteind- en halfeindronde (16 en 23 September) sake moes uitspook.

Baie van die spelers in die reeks is voltyds aan rugby-akademies verbonde, waarvan heelparty deur klubs geadministreer word

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.