Mening: Nog meer rugby-dinge om jou kop te laat draai

(Foto: Twitter / @LeinsterRugby)

Die rugbywêreld word by die dag meer deurmekaar en ʼn mens moet jou kop bymekaar hou om tred te hou met die vele veranderinge en gebeurtenisse.

Hier volg ʼn paar gevalle wat deel is van die nimmereindigende rits veranderinge aan die spel, sy reëls en kompetisies waarvan sommige later in die artikel meer breedvoerig behandel sal word.

  • Daar was die rits verrassings in die vyf toetsreekse tussen die wêreld se tien beste spanne.
  • Die moontlikheid van ʼn wêreld-klubreeks en die vatbaarheid daarvan word tans ondersoek. Die gedagte is dat die wêreld se 16 beste klubs (franchise’e in Suid-Afrika se geval) mekaar elke vier jaar sal aandurf.
  • Sal die aanstelling van ʼn enkele groep voltydse skeidsregters vir alle toetse deurgevoer word?
  • Moet die ryk oorsese rugbylande se klubs bevoordeel word omdat hulle, met veel groter borge en ryk eienaars, hul spelers meer kan betaal en dus beter spelers van oorsee kan lok? Is ʼn standaard-betalingsplafon nie die oplossing nie?
  • Nieu-Seeland, wat aandadig was aan Suid-Afrika se uitsluiting uit Superrugby, het nou skielik toenadering gesoek met voorgestelde wedstryd-kontak tussen die o.19s en A-spanne van die twee rugbyunies.
  • Hoe gaan die reël oor verblyfskwalifikasie toegepas word vir spelers wat vir ʼn ander land wil speel? Dit word reeds heeltemal deur spelers en lande uitgebuit wat binne die spertydperk reeds vir ʼn ander nasionale span uitdraf.
  • Ondanks die spel se reëls waaraan steeds gekarring word, is daar nog te veel gevalle waar die nie-oortredende span aan die kortste end trek.
  • Daar is steeds onsekerheid of Suid-Afrika in 2024 tot die Sesnasies-kompetisie  toegelaat sal word

Klub-Wêreldbeker

Die mees kontensieuse van bostaande is seker die beoogde ‘Klub-Wêreldbeker’.

 Foto: Twitter.

Die gedagte is glo, aldus Bill Sweeney, die uitvoerende hoof van Engeland se rugby en ook lid van die EPCR (raad van Europese klubrugby) dat sewe klubspanne van die Suide plus een van Japan, teen agt spanne van die Noorde (wat Suid-Afrika se franchise’e insluit weens sy VRK-verbintenis!) in die kompetisie speel

Die kompetisie sal vier groepe hê wat die jaar voor toere van die Britse en Ierse Leeus sal uitspeel om die beste klubspan ter wêreld te bepaal.

Hoewel hy toegee dat daar nog baie werk in die verband voorlê, sê Sweeney dat daar groot steun vir die kompetisie is.

Dit sal glo nie meer wedstryde vir die sogenaamde klubspanne en hul spelers inhou nie. En ja, dit sál belangstelling gaande maak en spogregte vir die span en klubkompetisies tot gevolg hê as, dink maar Crusaders uit die ou Sanzar-kompetisie.

Maar sal ons Curriebekerreeks nie verder die niet insak nie? Sal die klubreeks nie tot groter en meer skuiwe van spelers lei nie? Sal die deelnemende spanne, wie ook al as verteenwoordigend is van hul halfrond in die kompetisie, nie hul kaarte só speel dat hulle drie jaar lank spanbou om net ʼn werklike krag in die jaar van die Klub-Wêreldbeker te wees nie?

Sal dit nie meer rondryery vir die spelers beteken nie?

ʼn Mens moet maar wag en sien.

Skeidsregters

Die aanwysing van skeidsregters sal maar altyd omstrede wees.

Daar is twee aspekte wat ek wil aanraak:

  • Nie ʼn enkele Suid-Afrikaanse skeidsregter sal in die komende Rugbykampioenskap blaas nie.
  • Wêreldrugby wil (sowat tien) voltydse skeidsregters aanstel wat al die voorste lande se wedstryde sal beheer.

▪ Daar is nie ʼn enkele Suid-Afrikaanse skeidsregter onder die 12-tal wat aangestel is om in die komende

Jaco Peyper. Foto: (AP Photo/Shuji Kajiyama)

Rugbykampioenskap te blaas nie. Jaco Peyper, een van die mees ervare toetsskeidsregters van alle tye, moes klaarblyklik die prys betaal vir die deurmekaarspul twee weke gelede toe Nieu-Seeland met twee afgestuurde spelers iemand moes prysgee om ʼn stut op die veld te kry.

Wat ʼn mens veral laat kopkrap, is die aanstelling van die onervare Nika Amashukeli van Georgië wat maar lelik klei getrap het in die Loftus-toets teen Wallis.

Die Franse se Mathieu Raynal sal die eerste keer sedert 2018 in die Rugbykampioenskap blaas, en die Skotse blaser, Mike Adamson, omstrede in die halfeind tussen die Stormers en Ulster, maak saam met Amashukeli en James Doleman (Nieu-Seeland) hul debuut in die reeks.

▪ Volgens nuusberigte uit Brittanje en Australasië oorweeg Wêreldrugby ʼn sentraal-aangestelde aantal skeidsregters om toetse te hanteer.

Die doelwit is glo om konsekwente beslissings in toetse teweeg te bring. Maar sal dit gebeur? Ek het my bedenkinge…

Tans word skeidsregters deur hul unies aangestel en vir tuiskompetisies gebruik vanwaar hulle dan, soos hulle vorder, deur Wêreldrugby vir toetse en internasionale wedstryde op ander vlakke, soos die o.20s, aangestel word.

Wêreldrugby sal glo volgens dié plan die opleiding gebruik om gestandaardiseerde beslissings te kry.

Tans word skeidsregters deur hul eie unies gekontrakteer en word hulle, mits hulle goed genoeg is, vandaar deur Wêreldrugby vir toetse nadergetrek.

Tussen die rugbytoetse en opleidingstandaarde deur sal hulle egter ook toegelaat word om steeds in ander wedstryde te blaas.

Die vraag (of vrae) is hoe dit gedoen gaan word; hoe dikwels en hoe lank die gekose groep saam sal moet bly; en wat die optrede is as hulle weens ernstige foute nie meer aan die regte standaard voldoen nie?

Verskuiwing van krag?   

Die Springbokke en die All Blacks is skielik nie meer onoorwinlik nie. Engeland het uit hul onlangse slaap ontwaak en met die Wallabies afgereken teen wie die Bokke hul laaste sewe toetse nie kon wen nie.

(Foto: Marty Melville/AFP)

Die vyf toetsreekse wat die voorste tien spanne op Wêreldrugby se ranglys die afgelope weke uitgespook het, het in twee gevalle verrassings opgelewer waar die onderste van die twee spanne op die ranglys (soos op 1 Julie, voor hul eerste toetse) die reeks gewen het.

  • Ierland het Nieu-Seeland 2-1 in die reeks geklop en is nou eerste op die ranglys
  • Argentinië het Skotland 2-1 in die reeks geklop, maar is steeds onder Skotland

In die drie gevalle waar die span wat hoogste op die ranglys gewen het, het Suid-Afrika vir Wallis met 2-1 geklop, Engeland het 2-1 teen Australië gewen en Frankryk het albei toetse teen Japan gewen.

Ondanks die bostaande reeks, waar Australië 1-2 teen Engeland verloor het, is ʼn mens effe onrustig oor die twee komende wedstryde teen Australië in die Rugbykampioenskap: Australië het ses van hul laaste sewe toetse in Australië teen die Bokke gewen en een was gelykop. Dus: sedert 2014 geen Boksege in Australië nie.

Bokke oorheers maar druk nie drieë nie

Wat verder vertwyfeling voor die komende Rugbykampioenskap bring, is die onlangse onvermoë van die Springbokke om hul oorheersende balbesit in punte te omskep. Voorbeelde is die eerste toets teen Wallis toe die Springbokke die bal 107 keer gedra en 480 m gevorder het, teenoor Wallis se 216 m en 66 keer wat die bal gedra is. Die ses besoeke aan Wallis se 22 in die eerste helfte, het net drie punte opgelewer.

Daar was ook 13 keer omkeerbesit aan die Walliesers.

Jasper Wiese in aksie teen Wallis. Foto: GB Jordaan.

Dit was feitlik dieselfde prentjie in Bloemfontein se verloor, waar die Bokke nie ʼn enkele drie gedruk het nie.

In die beslissende toets het daar van die drie lynbreke niks gekom nie. Nie minder nie as 13 verdedigers is geklop en 381 m is met die bal gehardloop. Daar is weliswaar drie drieë gedruk, maar een was van ʼn lynstaan-rolmaal en een van herhaalde losskrums op die Walliese doellyn met Handré Pollard wat soos ʼn wafferse voorspeler oor die doellyn is.

Oorheersing voorlangs is goed en wel, maar daar kan nie vorentoe net op rolmaal-drieë staatgemaak word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kokkie ·

Kan iemand asseblief vir my verduidelik in welke mate Nieu Zeeland ‘aandadig’ was vir Suid-Afrika uitsluiting uit Superrugby?

Jack Russ1 ·

Hulle (en Aus) wou nie SA in die SR gehad het nie omdat dit hulle reistyd baie lank gemaak het en omdat ons spanne meestal swak vaar in NZ was hulle van mening dat dit nie hulle help om teen sulke swak spanne te speel nie. Dan was die publiek ook nie altyd gelukkig met die tye van die weg wedstyde nie, want hulle moes te vroeg wakker word om dit te kyk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.