Mening: Nóg ʼn komitee-klap in SA rugby se gesig

Jaco Peyper in aksie in die Sesnasies-wedstryd tussen Engeland en Ierland in Dublin. Foto: Ken Sutton/DPPI via AFP.

Dit is nou maar eenmaal só dat die gemiddelde ondersteuner in Suid-Afrika glo ons trek altyd aan die kortste ent wanneer die internasionale rugbybase oor kontensieuse sake moet besluit waarby ons rugby gemoeid is.

Die jongste geval het in Suid-Afrika, so ʼn raps onder die radar en sonder veel kommentaar, deurgeglip. Dit behels die rooikaart waarmee die Suid-Afrikaanse skeidsregter, Jaco Peyper, die Engelse heelagter Freddie Stewart in die wedstryd teen Ierland gestraf het en wat nie deur Wêreldrugby se dissiplinêre komitee onderskryf is nie. Die komitee het bevind dat die heelagter se ‘straf’ slegs ʼn geelkaart moes gewees het.

Steward is kwytgeskeld en kan onmiddellik weer begin speel, is daar beslis.

En wie weet, dit kan Peyper sy aanstelling by die Wêreldbeker kos terwyl iemand soos die 28-jarige skeidsregter van Georgië, Nika Amashukeli, dalk ʼn uitnodiging sal kry – ongeag dat hy die Springbokke ʼn wen teen Ierland met twee groot flaters gekos het.

Sonder om in te veel detail in te gaan oor die rooikaart wat toe deur die dissiplinêre komitee tot geel verminder is, hoef ʼn mens jou hoofsaaklik net te steur aan die siening van moontlik die beste skeidsregter wat nog die fluitjie geblaas het, Nigel Owens.

Nou afgetree en ʼn boer in Engeland, meen Owens dat die beslissing, alles in ag genome en met Peyper midde in die taai rugbystryd, ‘waarskynlik’ reg was.

Peyper, sy assistente en die televisieskeidsregter het na alle opsies gekyk. Hulle was dus, meen Owens, as die besluitnemers op die veld bewus van die implikasies van wat die afstuur van Steward aan die wedstryd sou doen.

Geelkaart druis in teen voorgestelde reël oor hoogvat

Wat ʼn mens veral dronkslaan is dat hierdie aanvegbare uitspraak van die dissiplinêre komitee oor ʼn hoogvat volg kort ná die (baie onlangse) skrywe van Wêreldrugby. Daarin word voorgestel dat die toelaatbare têkkel-hoogte vir amateurspelers tot by die sternum (die middel van die bors) verlaag word, wat ek hieronder kortliks bespreek.

En dan praat ons nie eers oor die sowat 350 spelers in Brittanje, tussen 70 en 20 jaar oud, wat almal neurologiese gevolge oorgehou het van herhaalde kopstampe in die spel nie. Hulle is tans besig om  ʼn regsaak te maak teen Wêreldrugby, die Engelse RFU en die Walliese Rugbyunie.

Die voornemende klaers skoei hul saak daarop dat die genoemde drie rugbyliggame nalatig was deur nie vroeër al beskerming teen botsings wat tot harsingskudding en verwante beserings kan lei te bied nie.

Volgens Wêreldrugby, wat die afgelope jare diepgaande ondersoeke hieroor gedoen het, is 74% van alle harsingskudding-gevalle die gevolg van duikslae.

Die kop-teen-kop-botsing van Steward wat tydens die voorval teen Ierland penregop was, is juis die soort ding wat uitgeroei moet word. Die moedswil van die duikslag kom nie daarop aan nie, soos Pieter-Steph du Toit teen einde verlede jaar in Marseille teen Frankryk uitgevind het.

  • SA Rugby sal die voorgestelde duikslaghoogte van Wêreldrugby oor die volgende weke met hul unies en die SA Skolerugby-vereniging bespreek en hulle insette kry voordat hul dit in wedstryde op die proef stel.

Dit sal dan ook op waarskynlik slegs skole- en klubrugby betrekking hê.

Volgens Wêreldrugby het lande soos Frankryk, Georgië en Fidji hierdie doodvatreël reeds met groot sukses ingestel. Hulle statistiek dui op meer speeltyd en ʼn vermindering aan hoofbeserings. Ook het dit, veral in Frankryk, daartoe gelei dat meer rugby meer nuwe spelers lok.

Gelddrome, skole se aansien laat ʼn wrang smaak

Daar is by verlede jaar se Cravenweek weer drie seuns positief vir opkikker-dwelms getoets. Dié drie se oortreding het Januarie aan die lig gekom en is nie meer nuus nie.

rugbypale

Argieffoto.

Hoekom doen die jong spelers dit? Eenvoudig: Om groter, vinniger en sterker te word; om op die Cravenweek deur die Suid-Afrikaanse skolekeurders raakgesien te word met die oog op insluiting in die SA Skolespanne; en te mik vir die o.19s en o.20s op provinsiale vlak en uiteindelik die Junior Springbokke… en sakke vol geld wat sal volg

En belangrik vir die gebruik van opkikkers: Om te skitter voor die heelparty oorsese agente wat ons skoletalent vanaf die Cravenweek en ander skoletoernooie na oorsese klubs kom lok.

Die jong manne wat hulle jaarliks by veral die Cravenweke met die dwelmtoetsing vasloop, duur maar voort. Alle spelers word uiteraard nie getoets nie, maar die ‘oortredingsyfer’ wissel vanaf 2006 nogal taamlik konstant tussen 6-10% van getoetste spelers.

ʼn Logiese afleiding is darem seker dat dit beteken dat die ordesyfer vir alle spelers ook op die persentasie sal staan.

Toetsing is natuurlik ʼn duur proses en kan onmoontlik by elke skool met sportseuns of -dogters gedoen word. Maar die SA Instituut vir Dwelmvrye Sport (SAIDS) probeer sy net nietemin so wyd moontlik stel.

  • Dit is eenvoudig nou maar so dat ons skole in Suid-Afrika sport heeltemal skeeftrek op die skaal van belangrikheid. Rugbyspelertjies word plek-plek reeds as 11-jariges (o.12) by laerskole gewerf met skoolgelde en verblyf wat verniet is, en met baie ouers wat daarvoor val.

Die rede is eenvoudig: Oor ʼn jaar of twee gaan die gekoopte jonges die Cravenweekspan haal wat die skool se aansien as rugbyskool sal verhoog.

Hier in die Wes-Kaap is daar ʼn goeie (hoër) rugbyskool wat verlede jaar klaarblyklik nie aan die verwagtinge voldoen het nie. Om die rugby reg te ruk, is twee mansonderwysers vir vanjaar hoofsaaklik vir hulle vaardighede as rugbyafrigters aangestel. Dié skool oefen al van verlede jaar af en van die junior-ouderdomspanne se seuns het tóé al vier keer per week geoefen.

Gaan dit om die spelers of die skool? En waar staan sy akademie?

Ook in die Wes-Kaap weet ek van ʼn afrigter wat sy eerstespan-spelers vir vanjaar gemaan het om van dwelms weg te bly, maar grappenderwys daarna vir hulle gesê het: “As julle per ongeluk op ʼn naald lê, sal ek niks sê nie.”

En dán besef jy eers werklik hoe opdraande die SAID se stryd is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.