Mening: SA rugby, Bokke kan baat by Engelse klubs se geldprobleme

Francois Hougaard. (Foto: Instagram)

Die penarie waarin die Rugby Football Union (RFU) hom bevind nadat twee van sy oudste klubs in die finansiële sop beland het en nóg klubs klaarblyklik ook op pad mag wees, laat uiteraard vrae oor die volhoubaarheid van beroepsrugby wêreldwyd op klubvlak (franchise-vlak in Suid-Afrika) ontstaan.

Maar op ʼn wrange manier kan dit eintlik ons plaaslike rugby, en ook die Springbokspan, baat.

  • Ter agtergrond: Worcester en Wasps het vroeër die maand in administrasie gegaan, Albei is deur die Engelse Rugbyunie (RFU) geskors en uit die Premierliga gerelegeer en al hul spelers, en ook die administratiewe personeel, is nou werkloos.
    Vyf van Wasps se spelers is Suid-Afrikaners, en Springbokke Francois Hougaard, Vincent Koch en Nizaam Carr tel saam met die voormalige senter en kaptein van die Bulls en die Lions Burger Odendaal en die haker Michael van Vuuren onder die 36 Wasps-spelers wat skielik werkloos gelaat is.

Daar was geen Suid-Afrikaanse spelers in Worcester se groep nie.

Die aanduidings is dat daar nóg klubs is wat Worcester en Wasps op dié paadjie kan volg.

Wasps se skuld bedra meer as £25 miljoen (sowat R520 miljoen) waarvan £6 miljoen (R125 miljoen) aan die Ontvanger verskuldig is.

Worcester se skuld is glo, aldus Londen se Daily Mail, in totaal £28,3 miljoen (R590 miljoen) waarvan £2,3 (R45 miljoen) belastingskuld is.

En dit is maar net die oortjies van die seekoei.
Voor die skorsing van die Worcester en Wasps was die 14 klubs se gesamentlike skuld aldus die Daily Mail (gegrond op die klubs se jongste beskikbare state) £508,5 miljoen. Dit is R10,6 miljard – en om te wys hoe dit in syfers lyk, gee die volgende ’n beeld die werklikheid van die verknorsing waarin Engelse klubrugby hom bevind: R10 607 310 000.

 Hoe dit SA rugby kan help

Met die reeds krimpende ekonomie volgens Londen se Financial Mail is Engeland die enigste van die G7-lande waarvan die ekonomie steeds onder die pre-Covid-vlak is. Engeland is volgens die finansiële tydskrifte reeds op die randjie van ʼn resessie – en die bogenoemde totale skuld van die klubs beteken dat hulle dit nouliks sal kan bekostig om oorsese spelers ten duurste aan te koop.

Ook is dit feitlik seker dat die RFU die klubs se salarisplafon aan spelers sal verminder.

André Esterhuizen op die oorlogpad. Foto: GB Jordaan.

Bostaande sal dus vir Suid-Afrikaanse rugby die voordeel inhou dat die Engelse klubs dit nouliks kan volhou om veral Suid-Afrika se spelers met aardige somme geld te lok.

Die wisselkoers sal uiteraard aanhou om ʼn groot rol in werksaanbiedinge aan Suid-Afrikaanse spelers te speel, maar die wete van die klubs se swaarkry sal darem seker deur die spelers se agente in ag geneem word.

Boonop, met die finansiële swaarkry in Engeland wat voorspel word, sal die lewenskoste ook ʼn rol speel en sal dit minder aanloklik vir buitelandse spelers wees om daar te speel.

Teoreties sal dit Suid-Afrika se plaaslike eersterangse rugbyspanne versterk. Ons beste spelers sal toenemend in Suid-Afrika bly en ons plaaslike spanne en kompetisies sal versterk word.

Dink net watter bydrae op provinsiale vlak en ook in die Verenigde Rugbykampioenskap manne soos ondermeer Robert du Preez, Jono Ross, Cobus Wiese, Daniel du Preez, Jean-Luc du Preez, Tyrone Green, Andre Esterhuizen, Wilco Louw, Irne Herbst, Jacques Vermeulen, Ivan van Zyl, Louis Schreuder, Aranos Coetzee, Juan Schoeman, Juarno Augustus, Dave Ribbans, Hanro Liebenberg, Ruan Ackermann en Benhard Janse van Rensburg sou kon gemaak het…

Rassie se siening

Maar daar is ook ʼn ander prentjie. SA Rugby se direkteur van rugby, Rassie Erasmus, het vroeër vanjaar in sy rubriek in die Londense Mail on Sunday geskryf dat die uitvloei van spelers na sterk oorsese spanne nie noodwendig ʼn negatiewe invloed op Suid-Afrikaanse rugby het nie.

  • “Vir ons is dit wonderlik (dat Suid-Afrikaanse spelers oorsee gekontrakteer word”, het Erasmus geskryf.
    Hy wys daarop dat die oorsese spelers uit Suid-Afrika moontlik saam sowat R400 miljoen in Engeland verdien wat nie deur Suid-Afrikaanse spanne betaal hoef te word nie terwyl hulle daar in ʼn goeie kompetisie speel. Hy vra ook of dit goed vir die opkomende jong spelers in Engeland is om deur oorsese spelers van geleenthede ontneem word.

In Suid-Afrika, aan die ander kant, is daar goeie spelers wat geleenthede kry omdat hulle (dusver!) nie aanbiedinge van oorsee kry nie. Dink maar aan Elrigh Louw, Evan Roos, Jaden Hendrikse, Canan Moodie. En hoe lank Deon Fourie oorsee moes swoeg voor hy die oudste debuut-Bok nóg geword het.

Vir die onthalwe van die individue en natuurlik die sport, hoop ʼn mens dat die Engelse klubbase uitweë sal vind om hul klubs van ondergang te red.

Die klubs is almal op hul eie bestuur aangewese en kan nie by die RFU om hulp aanklop nie Hulle kry weliswaar elke jaar van die orde van £25 000 (R70 miljoen) wat tussen die klubs verdeel word, maar dit is ʼn blote druppel in die emmer as na die geheelprentjie van elke klub se skuld gekyk word.

In Frankryk, waar heelparty spanne deur miljardê0rs besit word (baie soos beroepsokker oorsee) was daar ʼn paar jaar gelede ook finansiële probleme, ondermeer omdat van die klubs die betalingsplafon oorskry het.

Hulle het egter nie naastenby die probleme gehad wat Engelse klubs nou het nie en spog nou stellig met die sterkste klubstelsel ter wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Ja, kom asseblief terug na die misdaadhool waar jy ook suiwer e-coli besmette water kan drink. Dis baie beter as in Engeland. En raskwotas beteken dat wit spelers rustig in die pawiljoen kan sit tot aftree ouderdom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.