Mening: Waar is SA se o.19’s die afgelope twee jaar?

Ter illustrasie. (Foto: Twitter/Cheetahs)

Terwyl daar met afwagting uitgesien word na die tweede o.20-kampioenskap van Wêreldrugby, wat  in Junie in die Wes-Kaap aangebied word en waarna ek later in hierdie meningstuk verwys, is daar ʼn ietwat kommerwekkende vraag oor ons junior rugby.

Daar is vanjaar net ses van Suid-Afrika se 14 rugby-unies wat aan SA Rugby se o.19-reeks deelneem – en die vraag is eenvoudig: Waar is Suid-Afrika se ander uitblinker o.19-skoolverlaters? Van hulle vang wel die oog, maar hoeveel gaan verlore?

Goed, ʼn mens het begrip vir die afstel van die nasionale o.19-kompetisies weens die Covid-pandemie. Maar verlede jaar was daar slegs vier uit die gewone 10 spanne wat oor ʼn enkelronde aan SA Rugby se o.19-toernooi deelgeneem het.

Die Goue Leeus het op nippertjie uit die 2022-reeks onttrek, en is vanjaar weer afwesig.

Daar is vanjaar slegs ses spanne wat aan die o.19-kompetisie deelneem. Hulle is die Bulle, die Sharks, en die WP, asook die Cheetahs, Luiperds en Valke wat ongelukkig net ʼn slaansak is.

Bygesê, die Valke is ernstig oor die reeks. Hulle het selfs voor die aanvang van die reeks die Bulls-klub, Centurion, gevra om aan hulle 20 spelers en twee afrigters te ‘leen’ om te kan deelneem.

Die Valke kry vanjaar groot slae, maar ʼn paar van die jong spelers mag dalk net, benewens die ondervinding, die oog van die Valke- of Blou Bulle-klubs gevang het. As jy nie in die ry is nie, kan jy nie die bus haal nie…

▪ Maar waar is die ander, en veral van die groter, bonde? Waar is die spelers uit die Leeus se voorste, of ten minste goeie, rugbyskole soos ondermeer Monnas, KES, Jeppe, Helpmekaar, St. Stithians, Noordheuwel, ná skoolverlating heen?

Of Northcliff High, wat die uitstekende losvoorspeler-broers Emmanuel (Lions) en Vincent Tshithuka (Sharks)  gelewer het, of Florida waar ondermeer Elton Jantjies op skool was? Daar is ook Linden, Parktown en verskeie ander.

Die Leeus is bekend daarvoor dat hy sy jong spelers grootliks self ‘kweek’ uit die beskikbare talent in die bond.

Die Leeus het miskien die verskoning dat die voerband jong uitsoek-spelers vanaf UJ en sy voorganger RAU nie meer bestaan nie. Maar daar is tog steeds Wits.

En die vraag is júís dít: Uit wie kies Wits jaarliks hul altyd mededingende spanne wat oor die jare goed in die Varsitybeker gevaar het? Pirates kry ook jaarliks ʼn klomp jong spelers uit Engelstalige skole.

En wat van die Oostelike Provinsie, met skole soos Grey Hoër, Pearson, Despatch, waar ondermeer Rassie Erasmus en Danie Gerber op skool was, Framesby..?

Dis seker effe onregverdig om te vra waarom die OP nie ʼn span ingeskryf het nie, want die wankelrige administrasie het die afgelope jare onder vele besture nog glad nie verbeter nie. Inteendeel!

Die Pumas het self ʼn klompie goeie rugbyskole. Kan daar nie uit die laaste twee jaar se matrikulante ʼn enkele span saamgeflans word nie?

ʼn Aantal moontlike rugby-loopbane, selfs al mik hulle net om klubrugby te speel, is nou daarmee heen.

Die 93% skoolverlaters wat ná hul matriekjaar wegraak, word hierdeur verder gehupstoot.

Van die skoolverlaters is uiteraard met akademie-beurse na universiteite of kolleges toe, maar uit die letterlik honderde rugbyskole moet daar tog sekerlik landswyd meer as ʼn verdere sowat 150-200 o.19’s wees wat steeds op provinsiale vlak junior rugby kan speel?

Die werklikheid is dat, selfs as (en dit is ʼn groot AS) daar hoegenaamd by universiteite o.19- of ander proewe is, daar darem seker – al is dit nie noodwendig ʼn sterk span nie – ʼn o.19-speler of twee mag wees wat straks uit van die genoemde skole of van elders kon gekom het.

▪ Of dit die unie of die skole, klubs of universiteite se skuld is dat ons onder 19’s so skaars is, weet ʼn mens nie. Maar dit moet reggestel word. Dis is immers ons rugbytoekoms waaroor dit gaan.

Indien dit nie reggestel word nie, wag daar binnekort ʼn rugby-donkerte op Suid-Afrika…

Is daar weer ʼn Pollard, Pieter-Steph en Kitshoff by die o.20-kampioenskap?

Terwyl die ganse Suid-Afrika se fokus die afgelope klompie weke op die uitspeelrondes van die Europese Rugbykampioenskap om die Heinekenbeker en die VKR was, waarin die Stormers die tweede agtereenvolgende jaar gespeel het, is dinge op o.20-vlak aan’t woel.

En dis nie om dowe neute nie. Wêreldrugby se o.20-kampioenskap word vanjaar weer aangebied nadat dit die afgelope drie jaar weens die Covid-pandemie nie plaasgevind het nie – en Suid-Afrika kry daarmee sy tweede kans om gasheer vir die toernooi te wees.

Die toernooi word vanaf 24 Junie tot 14 Julie wéér in die Wes-Kaap aangebied.

Dít is sommer baie goeie nuus. Die Junior Bokke het immers hul enigste oorwinning nóg in hierdie reeks op eie bodem in 2012 behaal.

Skoolseun Pollard, Wêreldbeker-spanmaats kom uit 2012-wenspan

In die 2012-toernooi wat in Suid-Afrika aangebied en gewen is, is ʼn skoolseun van Paarl Gimnasium nadergetrek teen die ouer manne.

Suid-Afrika se Handré Pollard. (Foto: Andy Buchanan/AFP.)

Dit was Handré Pollard, toe nog pas 18. Nou is die Pollard, wat 17 was toe hy sy matriekjaar begin het, reeds ʼn Springbokkaptein en het hy al in 65 toetse gespeel.

Pollard het in sy eerste o.20-kampioenskap se 2012-eindstryd teen Nieu-Seeland vier strafskoppe en ʼn skepdoel oorgeskop in die oorwinning van 22-16 en ook die volgende twee jaar in die kampioenskap gespeel. Hy was kortstondig, met ʼn totaal van 141 punte in sy drie toernooie, die grootste puntemaker in die kompetisie.

Hy speel sedert laasjaar vir Leicestershire in die Engelse Premierliga en is een van die hoogsbetaalde rugbyspelers ter wêreld.

Benewens talle ander Springbokke (wat hieronder genoem word), was daar ook Wêreldrugby se 2019 Speler van die Jaar, Pieter-Steph du Toit en die Stormers se kaptein die afgelope jare en ʼn derde ʼn Wêreldbekerwenner, Steven Kitshoff, in die 2012-span van die Junior Bokke.

2012 Junior Bokke in toetse

Benewens Pollard, Du Toit en Kitshoff van die Springbokke wat uit die 2012-span toetsrugby gespeel het, is daar ook die twee vleuels, Dillyn Leyds en Raymond Rhule, wat voorverlede naweek vir die Franse span La Rochelle gehelp het om hul tweede opeenvolgende Europese kampioenskap (om die Heinekenbeker) te wen; Stormers-slot Marvin Orie; Springbokvleuel Travis Ismaiel; Jan Serfontein, Springboksenter wat al jare lank in Frankryk speel; Oli Campbell wat ʼn klompie toetse vir Skotland gespeel het; Paul Willemse, wat ʼn gereelde slot van die Franse was tot hy vroeg vanjaar seergekry het; en Braam Steyn, toetsspeler in Italië.

▪ Die o.20-kampioenskap het die o.21- en o.19-toernooi van die destydse IRB vervang wat in 2006, ná vyf toernooie, doodgeloop het. Suid-Afrika het destyds die eerste en die vierde o.21-kampioenskappe gewen en in die vyfde plek in die eindstryd teen Frankryk vasgeval.

Die o.19’s van Loffie Eloff het in 2004 derde geëindig, in 2005 op tuisbodem die titel gewen en in 2007 in die eindstryd verloor. Insiggewend is dat die o.19-Bokkies hul enigste oorwinning, soos die onder 20s in 2012, ook in Suid-Afrika behaal het.

Basis vir vanjaar se kampioenskap al in gelê

Die Junior Bokke se hoofafrigter, Bafana Nhleko, en die assistent-afrigter, Lumumba Currie, beplan al sedert voorverlede jaar om die heel beste spelers in die land te identifiseer en in ʼn span saam te snoer, soos hieronder uitgewys word.

Die keuse van vanjaar se span was beslis nie maklik nie. Neem byvoorbeeld in ag die toenemende getal skolespelers (sowat 93%) wat ná skool nie meer rugby speel nie. Daar is ook die feit dat die Cravenweek eers verlede jaar ná die Covid-pandemie hervat is – ʼn goeie plek vir afrigters om talent te identifiseer.

Daar is darem ook reeds agt spelers in die nasionale o.20-span wat in Italië die toernooi teen die Sesnasies-spanne, plus Georgië, gewen het wat kwalifiseer om weer vanjaar vir die Junior Bokke te speel.

▪ Currie het ook onlangs met ʼn SA Akademiespan op toer na Gauteng en KwaZulu-Natal gegaan, waar hulle teen die Leeus en Sharks se senior spanne gespeel het. Dit het nie om die uitslag gegaan nie, maar die jonges het veral teen die Sharks uitgehaal.

Bongi Mbonambi en Ox Nche. (Foto: Patrick Hamilton/AFP)

Hulle het per bus van Johannesburg na Durban gereis, waar hulle teen die senior span van die Sharks gespeel het en waar veral hulle dissipline teen die Durbanse span geloof is. Hulle het ook ʼn oefensessie met die Springbokke, Bongi Mbonambi, Ox Nche en Grant Williams, meegemaak.

Wisselende weersomstandighede, wat reënweer en hitte ingesluit het, en die verskil tussen rugby op kusvlak en op die Hoëveld in Gauteng was ʼn uitdaging en goud werd, aldus Currie.

”Ons het die toer nodig gehad en het ons doelwitte bereik.

”Die spelers was uit hul gemaksone. Hulle moes met ons aankoms dadelik teen die Leeus speel. Dit het hulle gedwing om onmiddellik oor te slaan en aan te skakel, maak nie saak wat die omstandighede is nie.

”Hoewel ons in twee mededingende wedstryde gespeel het, het dit nie om uitslae gegaan nie. Ons was veral beïndruk deur die dissipline van die spelers teen die Sharks.”

▪ Die Junior Springbokspan sal waarskynlik begin-Junie gekies word, waarna die span hul finale oefenkamp sal hê.

Die 12 spanne wat in Junie om die titel as 2023 se 0.20-wêreldkampioen speel, is Argentinië, Australië, Engeland, Fidji, Frankryk, Georgie, Ierland, Italië, Japan, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en Wallis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Laksman ·

Die mense stel maar net nie meer belang in die klugspul van kwotas nie!

piet ·

As jy goedgenoeg is, sal jy speel. Daar is GEEN spelers van kleur wat byvoorbeeld in die VRK speel wat nie op meriete gekies word nie. Boonop is daar soveel geleenthede oorsee, waaroom gaan speel hierdie spelers dan nie oorsee nie, nee hulle WIL nie meer rugby speel nie. Te veel effort of hulle het net nie tyd nie weens werk of wat ookal. Dis ook niks nuuts nie, 90% van rugbyspelers het nog altyd verlore gegaan na matriek. Bittermin gaan sluit aan by klubs na matriek, was nog altyd so.

Anel ·

Wat help dit om tyd en geld te spandeer en te oefen en die beste te wees en dan word jy vervang deur ‘n kwota, wat nie naastenby soveel tyd en geld en nog op geoffer het nie. So kry eers julle huis in orde, kry politiek uit en dan sal dit beter gaan, miskien!

piet ·

So ‘n blinkjan sal mos onmiddellik opgeraap word deur ‘n oorsese klub. Die ouens is net nie so goed nie, daar is nou beter spelers van kleur wat op meriete gekies word.

Fran ·

Ontsettend baie van die top juniors gaan speel oorsee waar daar beter geld en geleenthede is.

JohanR ·

Is hulle nie oorsee waar hulle euros, yens en ponde verdien en nie vervang word deur ‘n kwota speler met net halfte die talent!

piet ·

Moet verder onthou word dat net ‘n handievol werklik goedgenoeg is om top-rugby te speel, dis ‘n feit. Om amateurrugby vir ‘n klub te gaan speel. is ‘n groot opoffering om te maak.

Pieter ·

Die andwoord is redelik eenvoudig die seuns stel net nie meer belang nie as gevolg van kwotas. En allie pa’s wat “in gekoop het” in boetman se skole rugby wat ook lapas gebou het se geld is op na sy rygby loopbaan op skool om hom verder te dra. Kyk maar na die hele bedryf hoe gebreek is dit , baie hartseer

Republikein in die Wes Kaap ·

Vergeet van Afrikaner seuns. Dekades terug was die gesinne groot met baie seuns wat rugby speel. Die gesinne is nou heelwat kleiner. En emigrasie begin nou hard slaan. Teen 2035 sal enkele wittes eersterangse rugby speel. Nog minder by klubrugby.

Hennie Biebouw ·

Die dood van klubrugby veroorsaak dat spelers wat op die rand van ‘n deurbraak is, eerder ander beroepe volg. Kwotas help ook nie. Ek dink De Wet Barry is die laaste Springbok wat uit klubrugby na die WP en uiteindelik die Bokke gevorder het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.