Momentumbou hoog op Bokke se prioriteitslys

Siya Kolisi neem ’n foto saam met opgewonde ondersteuners tydens die Springbokke se vaarwel-sessie op die OR Tambo-lughawe. (Foto: Phil Magakoe/AFP)

Nadat die Springbok-bestuur vir 38 spelers in die laaste vier toetse speelkans gegee het, verskuif die aandag nou nie net daarop om momentum vir die Wêreldbeker op te bou nie, maar ook om ʼn meer gevestigde stempel op die groep af te druk.

Die span het vandag na Brittanje vir hul laaste opwarmingswedstryde vir die internasionale rugbyskouspel vertrek – daar word volgende naweek teen Wallis op Cardiff litte losgemaak, terwyl die Twickenham-kragmeting teen die All Blacks as’t ware die kaf van die koring gaan skei.

“Iemand soos Jaden Hendrikse het nog nie veel wedstrydtyd agter die blad nie en dit sal goed wees om vir hom ʼn bietjie speelkans te gee. Maar daar sal beslis minder aan die span gekarring word soos wat ons probeer om gevestigde kombinasies te bou,” het Jacques Nienaber, afrigter, gesê.

Siya Kolisi het heelhartig met hom saamgestem.

“Ons wil wen en aan spelerkombinasies werk. Ja, ons het ʼn paar ouens speelkans gegee, maar die Wêreldbeker is om die draai en ons moet begin momentum bou.”

Volgens die nasionale rugbykaptein is die Bok-groep ʼn meer hegte eenheid as in 2019.

“Ons weet wat om nou te verwag en die spelers het baie meer ervaring. Selfs die jonger ouens stap nie net blindelings die kompetisie binne nie – daar is verskeie senior spelers op wie hulle kan steun. Ons is nou beslis geestelik sterker as vantevore.”

Hy het egter gewaarsku dat die etiket as die verdedigende kampioenspan nie veel tel wanneer die toernooi in alle erns begin nie.

“Anders as in 2019 is ons nie nou die buiteperde nie, maar ons is beslis ook nie die gunstelingspan om met die louere weg te stap nie.”

Hy is tog te bewus van die groot taak wat op die Springbok-span se skouers rus.

“Elke keer in die aanloop tot ʼn Wêreldbeker-toernooi is daar uitdagings wat deur die land in die gesig gestaar word. Ons beskik oor die unieke geleentheid om weer vir glimlagte op mense se gesigte te sorg.”

Springbokke se Wêreldbeker-groep:

Voorspelers: Steven Kitshoff, Vincent Koch, Frans Malherbe, Ox Nche, Trevor Nyakane, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Eben Etzebeth, Jean Kleyn, Marvin Orie, RG Snyman, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Kwagga Smith, Marco van Staden, Duane Vermeulen, Jasper Wiese, Deon Fourie en Franco Mostert.

Agterspelers: Faf de Klerk, Jaden Hendrikse, Cobus Reinach, Grant Williams, Manie Libbok, Damian Willemse, Damian de Allende, André Esterhuizen, Jesse Kriel, Kurt-Lee Arendse, Cheslin Kolbe, Willie le Roux, Makazole Mapimpi en Canan Moodie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.