Morné, Cobus terug vir beslissende toets

Cobus Reinach. (Kyodo News via AP).

As die Springbokke Saterdag vir die hele wedstryd speel soos wat hulle in die laaste 40 minute van die tweede toets vertoon het, kan hulle die reeks teen die Britse en Ierse Leeus op ’n drafstap beklink.

Maar, en bonuspunte indien jy reg geraai het, as is inderdaad ook verbrande hout en die Bokke sal sonder staatmakers soos Pieter-Steph du Toit en Faf de Klerk (al twee beseer) in die belangrike stryd moet klaarkom.

Gelukkig vervang een van wêreldrugby se vinnigste skrumskakels, Cobus Reinach, vir De Klerk, terwyl Franco Mostert die sprong van slot na flank sal maak. Lood de Jager sal dan Eben Etzebeth se slotmaat wees.

Morné Steyn kan sy eerste Springboktoets in vyf jaar speel. Foto: Alexander Joe/AFP.

Daarbenewens is die ervare Morné Steyn op die plaasvervangersbank ingesluit. Dit is ’n besluit wat moontlik lekker met die Leeus se koppe kan smokkel, want sy strafskop-heldedade van die 2009-toer is nog vars in die geheue. Indien die immergroen losskakel op die veld verskyn, sal dit sy eerste toets in vyf jaar wees.

Sy insluiting beteken dat daar vyf voorspelers en drie agterspelers op die plaasvervangersbank is.

Damian de Allende sal, net soos Handré Pollard en Steven Kitshoff in die vorige twee kragmetings, sy vyftigste wedstryd vir die Springbokke teen die Leeus vier. En die partytjie sal net soveel groter wees as die Bokke die reeks sou wen.

Damian de Allende speel Saterdag in sy 50ste toets. Foto: Odd Andersen/AFP.

“Ons is opgewonde vir Damian se onthalwe en ons weet wat dit vir hom en die span sal beteken om die wedstryd te wen,” het Jacques Nienaber (afrigter) gesê.

Volgens Nienaber verwag hy nog ’n fisieke aanslag van die Leeus, maar sy span is gereed om vuur met vuur te beveg.

Mathieu Raynal is die skeidsregter, met Ben O’Keeffe en Nic Berry sy twee assistente. Marius Jonker is die TV-skeidsregter.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Cheslin Kolbe (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Cobus Reinach (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Franco Mostert (flank), Siya Kolisi (flank), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Trevor Nyakane, Vincent Koch, Marco van Staden, Kwagga Smith, Herschel Jantjies, Morné Steyn en Damian Willemse.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Baardman ·

Amper gedog dis Cobus Wiese wat hulle weer wil nader hark

Anoniem ·

Hy sou darem so ‘n extra 100kg tot die pak se gewig kon bydra.

piet ·

Sover ek kan onthou, is Reinach nou nie juis een van die akkuraatste skoppers nie. Siende dat die wedstrydplan verlang dat die skrumskakel baie “up and unders”moet skop, kan dit ‘n probleem wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.