ʼn Bieliestryd wink tussen Bokke en Hane

Daan Human en Frans Malherbe. (Foto: Twitter/Springbokke)

Die Springbokke speel volgende Sondagaand in die kwarteindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi teen Frankryk op die Stade de France.

Dit is die verdedigende wêreldkampioenspan teen die gasheerland in ʼn belangrike uitklopwedstryd op ʼn ikoniese stadion; ja-nee, die tafel is ongetwyfeld gedek vir vurige rugbyaksie.

Volgens Springbok-hulpafrigter Daan Human het al twee spanne verbeter sedert hul vorige tweestryd verlede November in Marseille.

Die Hane het daardie toets met 30 – 26  gewen nadat Wayne Barnes vir Pieter-Steph du Toit en Antoine Dupont met rooi kaarte van die veld gestuur het.

“Ek dink hulle is ʼn beter span as verlede jaar, maar ons het ook verbeter,” het Human gesê.

“Wanneer ʼn span hard op die oefenveld werk, sal hy natuurlik beter rugby speel. Maar net soos wat Frankryk in sy vermoëns op die speelveld glo, só glo ons ook in ons spelers se vaardighede.”

Volgens die 47-jarige voormalige Springbok-stut, wat in 169 wedstryde vir Toulouse uitgedraf het, is daar nie veel kraakplekke in die Hane se mondering nie.

“Hulle is sterk in elke afdeling van die spel – dit is waarom hulle onder die topspanne in die wêreld tel. Terselfdertyd het hulle al vier van hul groepfasewedstryde gewen en hulle het die septer teen die All Blacks geswaai.”

Volgens Trevor Nyakane is die Fransmanne se skrumwerk hul trots.

“Frankryk sal beslis sy man in die skrums staan, maar ons werk ook baie hard om dié faset van die spel te oorheers. Wanneer ’n span voorvoet momentum in die skrums geniet, gee dit hom ’n groot sielkundige hupstoot,” het die ervare Bok-voorryman gesê.

Die Springbokke vertrek Maandag na Parys om vir die kwarteindstryd voor te berei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bossie ·

WENNERS TUSSEN A EN B GROEPE DIE NAWEEK, GAAN SLEGS N VOORBEIDING HET DIE VOLGENDE
NAWEEK VIR EINDSTRYD.

kragaap ·

Bokke sal moet domineer in die voorspelers, tesame met ondeudringbare verdediging. Die franse se agterlyn is stukke beter as die bokke s’n en uiters kreatief om spasie te vind vir hul vleuels (veral Penaud, sekerlik nou die beste regtervleuel in die toernooi).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.