’n Bok-generaal om op trots te wees

Morné Steyn in aksie teen die All Blacks. Foto: AFP.

Morné Steyn, die Springbok-puntemasjien, het gister sy amptelike uittrede uit internasionale rugby aangekondig en sedertdien word sy lof uit verskeie oorde besing.

“Ek is dankbaar dat ons soveel herinneringe saam meegemaak het en dat ek eerstehands van jou heel bestes kon ervaar het,” het Bryan Habana gesê.

En vergeet maar van Tina Turner se treffer, volgens die voormalige Springbok-blits is Steyn “Simply the best”.

Dan het Jacques Nienaber (Springbok-afrigter) ook hulde aan die veteraan-losskakel gebring.

Steyn se vertonings in die kleure van die Blou Bulle het almal laat regop sit en hy is kort voor lank – op 36-jarige ouderdom – deur die Bok-keurders nadergetrek. Hy het terstond hul vertroue in hom terugbetaal deur die reeks teen die Britse en Ierse Leeus met ’n strafskop te beklink.

“Hy het twee keer ’n reeks teen die Britse Leeus gewen en die wyse waarop hy dit gedoen het, spreek boekdele van sy vermoë op die rugbyveld. Hy is nie net ’n uitstekende rugbyspeler nie, maar ook ’n wonderlike mens,” het Nienaber gesê.

In ’n perfekte wêreld sou die Springbok-afrigter graag wou gehad het dat Steyn deel van die nasionale opset tot die volgende Wêreldbeker-toernooi in Frankryk sou gebly het omdat hy soveel waarde tot die span kan voeg.

“Ons sou hom nie gekies het as ons nie gedink het dat hy ’n groot bydrae tot 2023 kan maak nie, maar ons is almal in verskillende seisoene in ons lewe. Ons respekteer sy besluit en wens hom alles van die beste toe.”

Steyn het egter glad nie speelkans in die laaste paar Rugbykampioenskap-wedstryde gekry nie en die 37-jarige losskakel het gesê dat dit “sinneloos” is om vir ’n speelkans te wag.

Hy het homself egter beskikbaar vir die Bulls verklaar en sy ervaring sal van onskatbare waarde vir die span in hul Verenigde Rugbykampioenskap-veldtog wees.

“’n Ware legende het besluit om sy internasionale stewels weg te bêre. Maar soos wat een hoofstuk afgesluit word, begin die volgende een en ons sien daarna uit om vir Morras in die blou trui dop te hou,” het die Pretorianers getwiet.

  • Net vinnig ’n interessante stukkie statistiek: Die Springbokke het 64,7% van die toetse gewen waarin Steyn gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Soos Morne die Mike Tyson van boks was was naas Botha die Muhammed Alli

Schalk ·

Ek dink sy opponente het hom gevrees en genoem Monster Steyn . Fantastiese loopbaan.

Trotse Boervrou ·

So, so, so trots op jou Morné. Jy het ons al baie ure se uitstekende rugbygenot verskaf en sal ‘n held bly in almal se oë. Dankie daarvoor. Jy speel met hart en siel rugby. Gelukkig is jy nie heeltemal verlore vir ons nie. Die Bulls kan hulself baie bevoorreg ag. Sterkte met die pad vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.