Ngcobo: Blitsbokke moet balbesit beter ‘beskerm’

Die Blitsbokke kom weer vroeg in 2024 byeen om vir die volgende toernooi in Perth voor te berei. (Foto: Hansie Linde)

Volgens Sandile Ngcobo sal die Blitsbokke hard moet werk om meer spierkrag by die afbreekpunte te wys.

Die Suid-Afrikaners het die Kaapstad-sewestoernooi in ʼn teleurstellende sesde plek afgesluit en volgens die nasionale sewesafrigter het sy span nie voldoende balbesit geniet nie.

“Ons het die bal doodeenvoudig nie goed genoeg beskerm nie. Spanne het ons by die afbreekpunte onder druk geplaas en ons het hopeloos te veel balbesit afgestaan,” het Ngcobo gesê.

Die Blitsbokke het vroeg in die toernooi met Groot-Brittanje en die VSA afgereken waarna hulle met twee punte teen Ierland die onderspit gedelf het.

Hulle het egter lelik teen Australië (28–0) en teen Nieu-Seeland (31–7) verloor en was glad nie opgewasse teen hul teenstanders nie.

Ngcobo is egter nog optimisties oor sy span se kanse in die oorblywende toernooie.

“Ons het die afgelope twee weke gewys dat ons met enige span kan afreken en ons het baie hard in aanloop tot die seisoen gewerk. Ja, Sondag was nie ʼn baie goeie dag vir ons nie, maar ons sal beslis die wedstryde ontleed en die nodige aanpassings maak.”

Argentinië het uiteindelik in die mansafdeling met die bekerlouere weggestap, terwyl Australië se vrouespan vir Frankryk in ʼn goeie eindstryd geklop het.

Tellings in bekereindstryde:

Mans:

Argentinië 45–12 Australië

Vroue:

Australië 29–26 Frankryk

Argentinië het ’n rits drieë in die bekereindstryd teen Australië gedruk. (Foto: Hansie Linde)

HSBC-punteleer ná twee toernooie:

  1. Argentinië: 38 punte
  2. Suid-Afrika: 30 punte
  3. Fidji: 30 punte
  4. Nieu-Seeland: 28 punte
  5. Ierland: 26 punte
  6. Australië: 26 punte
  7. Samoa: 11 punte
  8. Frankryk: 10 punte
  9. Kanada: 9 punte
  10. VSA: 8 punte
  11. Groot-Brittanje: 7 punte
  12. Spanje: 5 punte
  • Die volgende toernooi in die reeks word van 26 tot 28 Januarie in Perth beslis.

Argentinië en Australië vier hul sewessukses in Kaapstad. (Foto: Hansie Linde)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Ag mnr die afrigter,hou op verskoning maak vir swak afrigting,geen toewyding en jy kry geen respek van jou spelers nie.Hoekom het dit so goed gegaan toe Powell afgerig het.Gaan jy jou “scooter” saam vat vir jou seer voetjie.Pateties van ‘n afrigter.Ons sal geen verdere toernooie wen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.