Nienaber tevrede met Bok-vertoning

Springbok-afrigter Jacques Nienaber. (Foto: Patrick HAMILTON/AFP)

Rugbyliefhebbers gaan weliswaar nie eendag gister se toets tussen die Springbokke en Skotland op Murrayfield as ’n skouspelagtige tweestryd onthou nie, maar Jacques Nienaber is tevrede met die Suid-Afrikaners se vertoning.

Die Springbok-afrigter is veral in sy noppies met die wyse waarop die span geduldig gewag het om geleenthede in punte te omskep.

“In die eerste paar minute van die wedstryd het ons al met gebiedsvoordeel en balbesit gesit, maar ons het geweet hulle sal moeg word en dan sal ons geleenthede kry om punte aan te teken,” het Nienaber gesê.

Makazole Mapimpi het gister sy beste driedrukvoet voorgesit, terwyl Elton Jantjies, Handré Pollard en Frans Steyn se skopkelkievaardighede ook die Skotte op die telbord gestraf het.

“In die aanloop tot die wedstryd het ons vir mekaar gesê dat Skotland ook uitstekend op verdediging is – hulle het immers die minste punte in verlede jaar se Sesnasiesreeks afgestaan. Ons het geweet dat ’n taai stryd op ons wag.

“Gelukkig het ons twee voorrye van wêreldgehalte wat die fondament vir die sege gelê het, terwyl die plaasvervangers ook goed saamgespeel het toe hulle hul verskyning op die veld gemaak het.”

Siya Kolisi – wat weer eens ’n barshou gespeel het – het gesê dat Nienaber vooraf baie gepraat het oor die wyse waarop die span hul geleenthede moet aangryp.

“Die groot verskil is dat ons vandag ons geleenthede om punte aan te teken doeltreffend benut het; iets wat ons nie altyd teen Australië en Nieu-Seeland gedoen het nie.

“Ons het twee drieë gedruk en soveel druk toegepas dat hulle niks anders kon doen as om die bal weg te skop nie. Dit is waaraan ons hard op die oefenveld werk en ons kon dit in ’n wedstrydsituasie regkry,” het die Springbok-kaptein gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Harley Davidson ·

Maar is die mense tevrede met die span en hoe hy gekies word ?

MakersMark ·

Maak nie saak nie hul wen. Is wêreld kampioene, nr 1 op die wêreld ranglys, het B&IL geklop. Fantastiese span

Pieter ·

Dis soos dit is. Maak vrede daarmee of bly weg. Niemand sal jou bitterhate mis nie.

Kirst ·

As die regering so goed soos die Springbokke presteer het, sou dit saakgemaak het hoe hulle gekies word?

JohanR ·

Engeland het Australia 40-16 verslaan, en hulle wag kommende naweek vir ons. Jacques Nienaber beter mooi oor daai span dink, en die swak plekke toe maak. Herschel Jantjies is iets, maar hy is nie ‘n skrumskakel nie! Frans Steyn en Fassi moet in die span wees teen Engeland as heelagters, of Fassi en Jesse Kriel op die vleuels.

N ·

Sou beter gegaan het met n ordentlike agterlyn. . Herchel Jantjies, Elton Jantjies, Jesse Kriel en Willie le Roux. Nie op vorm nie. Frans Steyn is verlede week speler van die wedstryd, die week moet hy in die 67min Willie se gemors gaan regmaak. Begin vir Reinach, Fassi en Steyn

Dirk Mostert ·

Wie besluit wat met strafskoppe gedoen word. Die kaptein of die afrigter? Netsoos in die vorige wedstryd was daar maklike skoppe naby die pale, maar daar word uitgeskop en die rolmaal flop. (Dit werk net laat in die wedstryd as die A-span op die veld is).

SjN ·

Stem saam Dirk, of hul kry n strafskop voor die pale, verkies eerder om uit te skop of skrum, dit is mos dus 50/50 dat hul die besit kan verloor wat dan ook soms gebeur, wat het van die tik en dryf bewegings geword, ten minste word besit gehou , die skrumskakel moet net vinnig skoonmaak en minder rondtrap en kyk en hou dan net vir willie daar weg asb.

Michael ·

Ja sonder Erasmus sal Nienaber niks uitrig nie-baie duidelik dat Erasmus steeds die werklike afrigter is.

Niklaas ·

Ek wonder net wat is die rede vir Fassi se toer van Brittanje ? Hy kry nie speelkans , vergaap hom dan maar aan die spelers op die veld teen die opposisie , dra dan die duiksakke en sal seker ‘n paar museums besoek. Hy is talentvol en almal wil hom in aksie sien , in plek van ou Willie . Dan is Herschell Jantjie nie eers ‘n plek in currie beker wedstryde waardig nie. Ons het baie beter skrumskakels , selfs ander kwota spelers as dit dan so ‘n prioriteit is.

piet ·

Jantjies is goed maar nie op vorm nie. Moet vervang word deur ouens wat op vorm is.

piet ·

So terloops – Kaptein Kolisi is een van die beste spelers in die span deesdae, groei ook geweldig wat die kapteinskap aanbetref. Goeie keuse gewees as kaptein.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.