Nienaber tevrede met Bokke se diepte

Die Springbok-afrigter Jacques Nienaber. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Dit sal ʼn splinternuwe Springbok-span wees wat Saterdag teen Argentinië in Buenos Aires kragte meet. Die wedstryd dien as voorbereiding vir die Wêreldbeker-toernooi wat eersdaags begin.

Die Springbok-bestuur het 13 veranderinge aan die opdrafspan aangebring wat verlede naweek die einste Argentyne met een punt op Ellispark geklop het.

Bongi Mbonambi sal die kapteinskapleisels vasvat met Trevor Nyakane en Thomas du Toit sy bondgenote in die voorry, terwyl Jean Kleyn saam met Marvin Orie in die lynstane gaan rank.

Gerhard Steenekamp, die Bulls-stut, sal sy Springbok-buiging maak wanneer hy sy verskyning op die veld as ʼn plaasvervanger maak.

Dan is Deon Fourie saam met Franco Mostert en Jasper Wiese die lostrio, terwyl Cobus Reinach dié keer Manie Libbok se skakelmaat is.

Agterlangs kry Canan Moodie en Makazole Mapimpi kans om hul vleuelvaardighede uit te stal met André Esterhuizen in die no. 12-trui.

Bongi Mbonambi sal die Springbok-kaptein in Buenos Aires wees. (Foto: Patrick Hamilton/AFP)

Volgens Jacques Nienaber is hy tevrede met die diepte van Suid-Afrikaanse rugby. Die span bevat Wêreldbeker-wenners sowel as spelers wat met die Britse en Ierse Leeus afgereken het.

“Ons praat al geruime tyd oor die belangrikheid om soveel as moontlik spelers ʼn regverdige geleentheid te gun om te wys wat hulle kan doen met die oog op die finale Wêreldbeker-groep,” het die Springbok-afrigter gesê.

Oudergewoonte verwag hy ʼn fisieke tweestryd teen die Argentyne en hy verwelkom ʼn drukkoker-situasie – dit dien immers as kleedrepetisie vir die Wêreldbeker.

“Argentinië het in die laaste twee seisoene gewys dat hulle ’n krag is waarmee rekening gehou moet word en dit is baie moeilik om hulle op hul tuisveld te klop. Hul fisieke spel in die vaste fasette en hul veggees is hul trots en ons maak gereed vir nog ’n taai wedstryd.”

Die wedstryd begin Saterdag om 21:10 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Canan Moodie (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), André Esterhuizen (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Cobus Reinach (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Franco Mostert (flank), Deon Fourie (flank), Marvin Orie (slot), Jean Kleyn (slot), Thomas du Toit (stut), Bongi Mbonambi (kaptein en haker) en Trevor Nyakane (stut). Plaasvervangers: Joseph Dweba, Gerhard Steenekamp, Vincent Koch, Jean-Luc du Preez, Evan Roos, Herschel Jantjies, Jesse Kriel en Kurt-Lee Arendse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Fran ·

Ek sien swarigheid vir die bokke. Argentinië gaan met hulle mors. Nienaber is uit sy diepte uit.

De Villiers ·

Ek is oortuig die Bokke gaan die Pumas pap druk Saterdag!

35-12 vir die Bokke!

piet ·

Hulle sal moet hardloop met die bal want daai pak voorspelers gaan nie die oorhand kry nie. Andersins kan ek nie sien hoe hulle kan wen nie.

SjN ·

As hul verloor gaan jy seker weer se dit is omdat Kolosi nie daar was nie ou Piet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.