Nienaber trots op Bokke se eindpoging

Damian de Allende en Malcolm Marx vier ’n deurslaggewende Springbok-drie. Foto: Juan Mabromata/AFP.

Die Springbokke se sending na Buenos Aires was ʼn sukses. Nie net het hulle die wedstryd met 36 – 20 gewen nie, maar hulle het ook ʼn belangrike bonuspunt ingeoes.

Dit was egter gʼn maklike taak nie; selfs al het hulle ʼn rustydvoorsprong van 22 – 6 geniet.

Die Argentyne, wat deur hul entoesiastiese ondersteuners aangevuur is, het bloed in die tweede helfte geruik. ʼn Strafdrie hier en Matias Moroni se poging daar het beteken dat hulle skielik net twee punte weg van die Springbokke se telling was.

Maar Damian de Allende en Malcolm Marx het met twee drieë binne die bestek van ses minute teruggeslaan om die wedstryd buite die Poemas se bereik te plaas.

“Ons het hierdie kragmetings as ʼn halfeindstryd benader en dit was beslis ʼn wedstryd van twee uiteenlopende helftes,” het Jacques Nienaber gesê.

Volgens die Springbok-afrigter was hy beïndruk met sy span se spel in die eerste helfte, maar al die strafskoppe in die tweede helfte het beteken dat die gevaarligte begin flikker het.

“Ek moet egter my hoed vir die spelers afhaal wat koelkop gebly het om die wa deur die drif te trek.”

Damian Willemse het ná rustyd die veld met ʼn besering verlaat en hy is deur Frans Steyn vervang. Die omvang van die jong Stormers-speler se besering sal binne die volgende twee dae bepaal word.

“Ons sal weldra ’n besluit neem of ons nog spelers vir die volgende toets moet inbring. Ons is eers baie vroeg Maandagoggend terug in Suid-Afrika; dus sal dit ʼn kort week vir al twee spanne wees.”

Die Springbokke speel komende Saterdag weer teen die Argentyne. Die wedstryd sal in Durban beslis word en die aksie begin om 17:05.

  • Puntemakers:

Springbokke: Drieë: Strafdrie, Malcolm Marx (2), Jaden Hendrikse en Damian de Allende. Doelskoppe: Damian Willemse en Frans Steyn (2). Strafskop: Willemse.

Argentinië: Drieë: Strafdrie en Matias Moroni. Doelskop: Emiliano Boffelli. Straskoppe: Boffelli (2).

  • Rugbykampioenskap-punteleer:
  1. Nieu-Seeland 14 punte
  2. Suid-Afrika 14 punte
  3. Australië 10 punte
  4. Argentinië 9 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.