Nuwe Varsity-kampioen word in Bloem aangewys

Die Shimlas het die Maties in Stellenbosch geklop. (Foto: X/Varsitybeker)

Die Shimlas sal sake op hul tuisveld teen die Ikeys om Varsitybeker-glorie uitspook nadat die twee spanne onderskeidelik met die Maties en die NWU-Pukke klaargespeel het.

Al twee oorwinnings is weg van die huis behaal.

Ikeys klop verdedigende kampioenspan in Potchefstroom

Die Ikeys het ʼn barshou teen die Pukke op die Fanie du Toit-sportterrein gespeel om die verdedigende kampioen met 32–18 te klop.

Die rustydtelling was 14–8 in die Kapenaars se guns.

Ntokozo Makhaza was in die kol met vyf stelskoppogings, terwyl Duran Koevort twee drieë gedruk het.

  • Puntemakers:

Ikeys: Drie: Duran Koevort (2) en Mika Schubert. Strafskoppe: Ntokoso Makhaza (5).

NWU-Pukke: Drieë: Tian van Zyl, Mpho Kubheka en Calvin Clack. Skepskop: Zinedine Robinson.

Shimlas druk vyf drieë in Stellenbosch

Die Shimlas se voorspelers het die grondslag vir hul uiteindelike oorwinning van 38–24 teen die Maties in Stellenbosch gelê.

Die Bloemfonteinse besoekers het veral die puntekrane ná rustyd oopgedraai en hulle het in ʼn stadium ʼn voorsprong van 29–12 geniet.

Maties kon weliswaar later met ʼn drie of twee terugbaklei, maar Zane Bester se onderskepdrie was die finale spyker in die doodskis.

  • Puntemakers:

Shimlas: Drieë: Asanda Kunene (2), Michael Annies, Cornelius Volschenk en Zane Bester. Doelskoppe: Ethan Wentzel (2). Strafskop: Wentzel.

Maties: Drieë: Matthys Kitshoff, Ezekiel Ngobeni, Aydon Topley en Anmaar Burton. Doelskoppe: Juan Mostert (2).

Die eindstryd word komende Maandag om 19:00 op Shimla-park in Bloemfontein beslis. Die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Dit behoort ‘n skouspelagtige eindstryd te wees. Albei spanne hou daarvan om met die bal te hardloop.

SjN ·

Mag die beste span wen, aanskoulike vetonings deur beide spanne sover opgelewer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.