Nuwe voorry moet Bok-skrum tem

Ethan de Groot op die voorvoet. Foto: Patrick Smith/Getty Images/AFP (

Die All Blacks-skrum was beslis in tru-rat in Nelspruit en in ’n oënskynlike poging om vir sy span broodnodige momentum in Johannesburg te gee, het Ian Foster twee veranderinge aan die voorry aangebring.

Tyrel Lomax en Ethan de Groot sal nou aan weerskante van Samisoni Taukei’aho in die skrum sak, terwyl Codie Taylor, George Bower en Fletcher Newell op die plaasvervangersbank is.

Die 26-jarige Lomax weeg 127 kilogram, terwyl De Groot die skaal op 122 kg laat kreun.

Shannon Frizell sal die no. 6-trui dra, terwyl die Crusaders se Richie Mo’unga sake vanuit sy losskakel-posisie sal dikteer.

“Ons het die afgelope week ongelooflik hard gewerk. Die span glo in hul vermoëns en die selfvertroue-vlam brand steeds,” het Foster gesê.

Volgens die Nieu-Seelandse afrigter is ’n toets teen die Springbokke op Ellispark altyd ’n spesiale geleentheid, terwyl die Vryheidsbeker ook vir bykomende motivering sorg.

Daarbenewens het Mo’unga ook al vantevore aangevoer dat die span hul vertroue in Foster se afrigtershande plaas.

“Ek ondersteun vir Fozzie 100%,” het die Crusaders-losskakel gesê.

“Hy was vroeg in my internasionale loopbaan die All Blacks se assistent-afrigter en ek het toe so baie goed geleer. Dit is goed om te sien dat hy weer met soortgelyke passie afrig.”

Die wedstryd begin Saterdag om 17:05 en dit sal op SuperSport uitgesaai word.

All Blacks: Jordie Barrett (heelagter), Will Jordan (regtervleuel), Rieko Ioane (buitesenter), David Havili (binnesenter), Caleb Clarke (linkervleuel), Richie Mo’unga (losskakel), Aaron Smith (skrumskakel), Ardie Savea (agsteman), Sam Cane (kaptein en flank), Shannon Frizell (flank), Scott Barrett (slot), Sam Whitelock (slot), Tyrel Lomax (stut), Samisoni Taukei’aho (haker) en Ethan de Groot (stut). Plaasvervangers: Codie Taylor, George Bower, Fletcher Newell, Tupou Vaa’i, Akira Ioane, Finlay Christie, Beauden Barrett en Quinn Tupaea.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Wens net Marx het die wedstryd begin. Hoop daar is nie spyt na die tyd nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.