Oud-Bul trotseer bibberweer in Rusland

Kobus Marais in Rusland. Foto: Verskaf.

Kobus Marais het ’n droom; een wat baie rugbyspelers het. En dit is om eendag Wêreldbeker-rugby te speel.

Nou het hierdie droom hom na Rusland geneem, waar hy vir Strela in die Russiese liga uitdraf.

Die 25-jarige het in Suid-Afrika vir die Blou Bulle se ouderdomspanne, die OP Kings en die Pumas, gespeel waar hy grotendeels die nommertientrui gedra het. Hy het ’n naam opgebou as ’n betroubare losskakel wat nie sommer ’n stelskop mis nie.

Marais het gereeld die meeste punte vir sy spanne aangeteken, terwyl hy ook in 2013 die jong Bulle se agterspeler van die jaar was.

“Ek het ’n hele paar aanbiedinge van klubs in Frankryk (Narbonne) en Italië (Treviso en Pertrarca) gekry, maar op die ou einde het ek op Rusland besluit. Ek en my ouers het saam gesit en bespreek wat die beste vir my loopbaan sal wees; en wie sal nou nie droom om eendag in die Wêreldbeker te speel nie?” het Marais gesê.

Volgens Marais het JP Nel – ’n voormalige hardebaardsenter van die Blou Bulle en deesdae Strela se afrigter –  hom gebel en ’n goeie aanbod gemaak.

“Kyk, dit is nou winter hier en dit kan lekker koud word – die kwik kan tot -15 °C daal. Maar gelukkig oefen ons binnenshuis. Ons toer volgende maand na Turkye en dan begin die amptelike seisoen in Maart.”

Hy is meer as 12 000 km weg van die huis, en hy is sy ouers, Kobus (senior) en Elize, ewig dankbaar.

“Sonder hulle ondersteuning en liefde sou niks moontlik gewees het nie. Hulle is beslis my steunpilare.”

As die generaal van die agterlyn is dit belangrik om maklik met die ander spelers te kommunikeer en hoewel die meeste Engels verstaan, neem hy gereeld Russiese lesse om die bewegings meer doeltreffend oor te dra.

“Ons is egter ’n hele paar Suid-Afrikaners hier. JP Nel en Jaco Engels (nóg ’n voormalige Blou Bul) is afrigters hier, terwyl Robbie Harlow (die voormalige kondisioneringsafrigter van die Crusaders) ook deel is van die opset. Ons is altesaam agt Suid-Afrikaners.”

Sy doelwit vir 2020 is om toe te sien dat Strela die Russiese kampioenskap wen en om net sy rugby te geniet.

Maar indien hy oor drie jaar vir Russiese burgerskap kwalifiseer, sal hy ’n Wêreldbeker-geleentheid met albei hande aangryp.

Al is dit ook hoe koud in Rusland …

  • Hy het sy Vodacombeker-buiging op 19-jarige ouderdom vir die Bulle gemaak.

“Dit was ’n voorreg om vir die Suid-Afrikaanse spanne te speel en dalk kruis ons paadjies weer.”

  • Hoewel hy in Marble Hall grootgeword het, het hy sy skoolloopbaan aan Hoërskool Waterkloof in Pretoria voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bril ·

Minus 15 grade? Dit is aanvaarbaar. Die kwik het soms al laer as dit in die Vrystaat geval (maar sonder sneeu, omdat daar geen wolke is nie, somerreenvalgebied, asook geen dubbeld geisoleerde vensters soos oorsee nie – Suid-Afrikaanse huise is nie gerat vir winters nie – oorsee wel). Bloemfontein Tempe diensplig winter 1979 2,4km weeklikse Cooper fiksheidstoets binne leerstewels eenkeer -tone so blou gevries ek het lank daarna nog gekrioel van die pyn. WWII Rusland winterveldtog was deels met wintertemperature teen minus 40 graad (!) gevoer en het die konflik deels tot ‘n stilstand gebring. Dan ook: hoe vogtiger die lug, hoe meer klim die koue binne mens. Droee koue – baie beter. Russe vertel my Rusland het die droee soort koue. As jy wil koud kry probeer: Oimjakon (Rusland) gemiddeld minus 50, Jakutsk (Russiese Federasie): soortgelyk aan Oimjakon. Sentraal-Europa is warmer as wat mens sou dink, heel leefbaar vir Suid-Afrikaners. Dele van die VSA en Kanada kan ook bitter koud raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.