Ox gerat vir skrumuitdaging in Bulls-kraal

Ox Nche. (Foto: Gallo Images)

Wie staan die sterkste in die skrums: Ox of ʼn Bul?

Dié vraag kan Saterdag beantwoord word wanneer die Bulls gasheer vir die Sharks in ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd op Loftus Versfeld speel.

Die Durbaniete kan op die bewese skrumvaardighede van Ox Nche steun, terwyl Wilco Louw ongetwyfeld sy stutstempel op die Jakarandastad afgedruk het.

“Ek verwag dat die tweestryd onder die voorryspelers baie mededingend gaan wees,” het Nche in aanloop tot die Suid-Afrikaanse derby gesê.

Die Springbok-stut het onder meer ʼn barshou in die Wêreldbeker-halfeindstryd teen Engeland gespeel waar sy invloed vanaf die plaasvervangersbank die wedstryd in die Suid-Afrikaners se guns geswaai het.

Hy het vir Wilco Louw as een van die Bulls se gevaarmanne uitgesonder.

“Wilco het ʼn goeie reputasie en ons sal ons planne agtermekaar moet kry om vir hom en die ander voorryspelers te neutraliseer. Eintlik werk al die Bulls se voorspelers baie goed saam,” het Nche gesê.

Die 29-jarige Louw het vanjaar by die Pretorianers aangesluit nadat hy onder meer sy rugby vir die Stormers, Toulon en Harlequins gespeel het.

“Die Bulls se voorspelers is ʼn krag waarmee rekening gehou moet word – veral wanneer daar geskrum word. Ons sal egter nie terugstaan nie en ons is gereed vir enige uitdaging.”

Die Sharks het verlede naweek hul eerste wedstryd van die jongste VRK-seisoen gewen toe hulle die Dragons met 69 – 14 op Kingspark oordonder het.

Volgens Nche kan die Durbaniete nie nou bekostig om hul voet van die versnelpedaal te haal nie.

“Ons het nou ʼn tikkie momentum aan ons kant en ons moet daarop voortbou. Die Bulls speel baie goeie rugby en ons sal op ons beste moet wees.”

Die wedstryd begin Saterdag om 15:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.