Pasop vir All Blacks met Schmidt daar

Die All Blacks op Ellispark. Foto: GB Jordaan.

Isa Nacewa het Leinster in amper 200 wedstryde verteenwoordig en hy het eerstehands ervaar hoe goed Joe Schmidt met die afrigtersfluitjie in hand is.

Die 56-jarige Schmidt is verlede week as Nieu-Seeland se spesialis‑aanvalsbreier aangestel nadat hy vroeër met groot welslae in Ierland afgerig het. Hy het onder meer in 2011 en 2012 die Heineken-beker saam met Nacewa en sy Leinster-spanmaats gewen voordat hy as Ierland se hoofafrigter aangestel is.

“In ’n wêreld propvol goeie afrigters staan Joe Schmidt as Mnr. Rugby bekend. Dit is veral die intensiteit waarmee hy ’n oefensessie benader wat hom uniek maak,” het die 40-jarige Nieu-Seelander gesê.

Volgens Nacewa het die All Blacks ’n groot slag geslaan toe Schmidt nadergetrek is en ander spanne sal nou in hul spore moet trap wanneer hulle teen die Kiwi’s speel.

“Dit is ongelooflik om te dink wat hy alles met ’n rugbyspan kan vermag. Dit was altyd sy aanvanklike opdrag om ’n span weer op te bou; maak nie saak of dit Clermont, Leinster of Ierland was nie. En hy het elke toets met vlieënde vaandels geslaag.”

Vir Nacewa is Schmidt ’n legende van die spel. Sy lof word steeds in Clermont besing, terwyl daar amper op ’n weeklikse grondslag van sy sukses in Ierland gepraat word.

“Nou gaan hy ’n elite‑groep spelers bystaan. Ons praat hier van die All Blacks en dit is eintlik skrikwekkend om te dink wat hy alles met hulle kan vermag.”

Nieu-Seeland se rugbybase het ook hul steun aan die beleërde Ian Foster toegesê nadat die Nieu-Seelanders die Springbokke op Ellispark geklop het.

Volgens Stewart Mitchell, voorsitter van die Kiwi-rugbybeheerliggaam, het Foster verlede week die jongste hersieningsessie van sy hoofafrigterspos geslaag. Dit was die derde keer in die afgelope 12 maande dat die 57-jarige afrigter se vertoning onder die vergrootglas was.

“Die raadslede het eenparig besluit dat hulle in aanloop tot die Wêreldbeker-rugbytoernooi volle vertroue in Ian en sy afrigterspan het,” het Mitchell gesê.

Die All Blacks speel Saterdag in ’n Rugbykampioenskap-kragmeting teen Argentinië. Die wedstryd begin Saterdag om 09:45 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

vuurvliegie ·

Een van die dae is my span weer no1 wat wereld rugby domineer.
Vars nuwe bloed om hulle stempel af te druk.

Nommer 7 ·

Die bokke moet net die gewoonte afleer om die bal weg te skop. Om ‘n drie te druk, moet jy eerstens
in besit van die bal wees. So ‘n wegskop het veroorsaak dat die All Blacks ‘n drie gedruk het in die laaste wedstryd.

vuurvliegie ·

Die wegskop van balle is nie die Bokke se grootste probleem nie.
Die afrigter Nienaber is enigste probleem wat die Bokke die Wereldbeker gaan kos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.