Pollard, Am op bystand

Handré Pollard tydens ’n onlangse kapteinsessie op die oefenveld. (Foto: Wikus de Wet/AFP)

ʼn Betroubare losskakel of stelskopper kan wondere vir ʼn span in ʼn belangrike Wêreldbeker-uitklopwedstryd verrig.

Dink aan Joel Stransky in 1995, Jonny Wilkinson in 2003 of Handré Pollard in 2019 – die Springbok was immers in die kol met twee doelskoppe en ses strafskoppe in die eindstryd teen Engeland.

Tog het die 29-jarige voormalige Bulls-speler nog nie voldoende van sy kuitbesering herstel nie en sy naam tel nie onder die 33 spelers wat Suid-Afrika by die Wêreldbeker in Frankryk gaan verteenwoordig nie.

Pollard is egter saam met die beseerde Lukhanyo Am deel van die reserwegroep spelers wat saam met die amptelike Wêreldbekergroep na Europa vir hul oorblywende voorbereidingswedstryde reis.

“Handré se rehabilitasiewerk het goed verloop, maar ons sal eers moet sien hoe hy die eise van ʼn toetswedstrydweek hanteer. Hy sal ʼn goeie vertoning op ʼn Saterdag moet lewer en dit dan weer met ʼn soortgelyke vertoning die volgende week opvolg,” het Jacques Nienaber, Springbok-afrigter, aan Rugby365 gesê.

Handré Pollard het nie voldoende van sy kuitbesering herstel nie. (Foto: Charly Triballeau/AFP. )

John Smit, wat die Webb Ellis-trofee in 2007 in die einste Frankryk omhoog gehou het, stem saam dat ʼn betroubare skopper ʼn definitiewe vereiste vir ʼn Wêreldbekertoernooi is.

“Wêreldbekers word deur stelskoppers gewen. Die Springbokke moet nou bepaal wie hul topdrie stelskoppers is,” het Smit gesê.

Manie Libbok en Damian Willemse is die twee losskakels in die groep, terwyl Cheslin Kolbe en Faf de Klerk ook al agter die skopkelkie aangetree het.

Goeie nuus is dat Pollard darem weer saam met die span op die oefenveld is.

“Handré sal saam met ons kan begin oefen, maar Lukhanyo kan vir twee tot vier weke langs die kantlyn wees. Ons glo dat hulle al twee fiks en gereed vir die Skotland-wedstryd (op 10 September in Marseille) sal wees. Hulle kan egter net deel van die amptelike Wêreldbekergroep word as daar ʼn besering is of as ʼn spelers iets aanvang wat sy plek in die groep beïnvloed.”

Pollard het die meeste punte (69) in die 2019-weergawe van die toernooi aangeteken.

  • Die nege spelers wat op bystand is indien die beseringspook sy kop in die Bok-kamp uitsteek: Lukhanyo Am, Joseph Dweba, Lood de Jager, Jean-Luc du Preez, Thomas du Toit, Herschel Jantjies, Evan Roos, Handré Pollard en Gerhard Steenekamp.

Vyf spelers uit dié groep – Dweba, Du Toit, Du Preez, Pollard en Am – sal saam met die amptelike span na die Verenigde Koninkryk reis vir die opwarmingswedstryde teen Wallis en Nieu-Seeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Maak nie vir my sin dat beseerde spelers op die bystand-lys is nie…alhoewel dit darem lyk of Pollard eintlik onmiddellik weer kan speel. Die vraag ontstaan nou hoekom hulle nie dan liewers ‘n kans gevat het om Pollard wel te kies nie en dan byvoorbeeld een minder skrumskakel te kies nie. Daai “waagstuk” sou die moeite werd gewees het in my opinie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.