Pollard oor Sondag: ‘Ek gaan realisties wees’

Handré Pollard (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Handré Pollard gaan allermins perfeksie verwag wanneer hy Sondag vir die eerste keer in 13 maande weer die Springboktrui oor sy kop trek vir die wedstryd teen Tonga in Marseille.

“Ek gaan realisties daaroor wees. Om van 30 minute se rugby speel ’n paar weke gelede, na ’n toetswedstryd in ’n Wêreldbeker te gaan, is nogal ’n groot sprong”, erken die 29-jarige losskakel.

“Maar ek is vol vertroue in die manier waarop ons voorberei. My verwagtinge vir myself is net om dit te geniet, myself te wees en die wete te geniet dat dit nie perfek gaan wees nie, maar ’n kans om myself na die volgende stryd te neem.”

Pollard het ook volle vertroue in Manie Libbok en die span se ander skoppers.

“Daar is op die oomblik baie druk op al die skoppers weens die laaste paar wedstryde, maar as jy sien hoeveel werk daardie ouens elke liewe dag insit, weet jy dit gaan enige dag regkom.

“Al die ouens wat in die span skop, het almal in die verlede 100%-wedstryde gehad, selfs vanjaar. Ons weet ons het dit almal in ons. As ʼn skopeenheid moet ons net bymekaar staan.

“Ek praat nie te veel met Manie nie want skop is ’n persoonlike ding. Te veel stemme kan baie steurend raak. Ek is altyd daar vir hom as hy enige hulp nodig het, maar hy is in goeie hande.

“Hy lyk goed en selfversekerd tydens oefening en ek is seker dit sal regkom.”

Sondag se groepwedstryd teen Tonga sal Pollard se eerste toets sedert Augustus verlede jaar wees nadat beserings hom maande lank op die internasionale kantlyn gehou het. Hy is aanvanklik nie in die Wêreldbekerspan ingesluit nie, maar is eindelik as plaasvervanger vir die beseerde haker Malcolm Marx opgeroep.

“Dit is ongelooflik om terug te wees, terug in hierdie omgewing. Dit is ʼn spesiale plek; ʼn spesiale omgewing om van deel te wees,” sê Pollard.

“Om ʼn tweede kans te kry is baie lekker en is iets wat ek elke dag probeer geniet.”

Pollard sê sy kuitbesering was veronderstel om hom net vier weke buite aksie te hou. “Maar dit was uiteindelik amper drie maande. Dit was ’n baie frustrerende tyd, maar dis die liggaam, dis hoe dit werk.

“Ons het ons bes probeer om so vroeg as moontlik fiks te wees, maar dit het net nie uitgewerk nie en dan was dit natuurlik moeilik om nie gekies te word nie. Maar so is die lewe.

“Hulle het altyd vir ons gesê om positief te bly en gereed te wees en dit is presies wat ek gedoen het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Laksman ·

Hoop regtig dis die keer die “springboktrui” en nie weer n Checkers sak nie.

Bolandse Nooi ·

Groot fout om hom nóú in die 15-begintal in te sluit. Die Tongs vs. Springbokke is nie só ‘n belangrike wedstryd nie en SA behoort te wen. Ek sou Pollard eers net so 20 minute laat speel het teen Tonga en dan volgende week beginnerstal teen wie-ookal 2de is in Poel A se wedstryd.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ierland sal Skotland wen. Dan speel jou bokke teen Frankryk wat 1ste is in Groep A.

piet ·

Sy laaste toets dink ek was teen Australie en ons het verloor juis omrede sy stelskopwerk so swak was in daai wedstryd. Hoe ironies?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.