Pote ook terug in die Vrystaat

Pote Human in aksie vir die Cheetahs. Foto: Twitter.

Die Pote Human-era het weliswaar vroeër vanjaar ná ’n sukkelseisoen tot ’n einde op Loftus Versfeld gekom, maar daar het ’n nuwe (dog bekende) deur vir die talentvolle afrigter oopgegaan.

Die 60-jarige is weer terug in die Vrystaat waar hy die FNB Shimlas se hoofafrigter in die komende Varsitybeker-reeks sal wees. En hy behoort Bloemfontein se rugbyvelde soos die palm van sy hand te ken.

Gedurende sy speeldae was hy in meer as 80 wedstryde vir die Vrystaters in aksie, terwyl hy die unie ook vir ’n groot gedeelte van sy Cheetahs-loopbaan aangevoer het. Daarbenewens het hy ook met welslae die Shimlas vroeër in sy loopbaan afgerig.

Die voormalige losvoorspeler het die Bloemfonteinse universiteit van 2000 tot 2004 afgerig. In hierdie tyd het die span met die louere in die Super Bowl-, Stadsbeker- en Nasionale Klubkampioenskap-kompetisie weggestap.

Pote Human is een van rugby se galante here. Foto: Twitter.

“Bloemfontein het wonderlike mense en die Shimlas spog met ’n lekker bestuurspan,” het Human gesê.

“Verskeie van die jong manne wat destyds vir die Shimlas uitgedraf het – ouens soos Jannie en Bismarck du Plessis, Guthro Steenkamp en Ruan Pienaar – het almal later Springbokke geword.”

Hoewel sy afrigterspad hom al oor die wêreld geneem het, het alles by die Cheetahs begin. Ná sy speeldae het hy vir die eerste keer in 1994 die fluitjie as wyle Nelie Smith se voorspeler-afrigter geblaas. Die Vrystaters het daardie jaar in die eindstryd van die Curriebeker teen Transvaal gespeel.

En die Bloemfonteiners is beslis in hul noppies met Pote se tuiskoms.

“Pote is die regte man op die regte tyd vir die taak en sy aanstelling is ’n teken van vertroue in die unie se toekoms. Die Cheetahs is die Curriebeker-kampioen en dit is belangrik dat die Vrystaat met die ontwikkeling van spelers se talente moet volhou,” sê Ryno Opperman, voorsitter van die Cheetahs se direksie.

“Dit is bemoedigend om te sien dat spelers en afrigters soos Pote, Ruan Pienaar en Frans Steyn weer terugkom na die unie waar hulle wortelgeskiet het.”

Human sal reeds op 2 November by die Shimlas inval waar hy die leisels by Hendro Scholtz sal oorneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dubbelloop ·

Ja wat ou Pote, jou afrigtings metodes en kennis het nie gewerk in Bloubul land nie. Hoop net jy is ń goeie ontleder vd spel en kan dit toepas by die Vrystaters, die Shimlas. Sterkte en ek hoop jy behaal sukses.

twaalfboor ·

En al die tyd het ek gedink sy wortels is in die voormalige “Oostelike Provinsie” saam met Garth Wright.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.