Powell tevrede met Blitsbokke

Die Blitsbokke was verslae nadat hulle met 7-5 teen Nieu-Seeland verloor het. Foto: Christiaan Kotze.

Twee naweke en twee agtereenvolgende eindstryde; ’n goue medalje en ’n eindstryd waar die bal in enige span se guns kon gespring het.

Dít is die pad wat die Blitsbokke in die afgelope twee toernooie in die HSBC-sewesreeks gevolg het. Hulle is as die wenners van die Doebai-toernooi gekroon, terwyl hulle Sondag met net twee punte teen Nieu-Seeland in Kaapstad verloor het.

“Ons het twee goeie weke agter die blad en dit is ’n baie beter begin tot die seisoen as verlede jaar. En ten spyte van die twee lynstane wat ons in die finaal gekortwiek het, het ons ’n baie goeie toernooi in Kaapstad gehad. Ek kan beslis nie fout met die spelers vind nie,” het Blitsbok-afrigter Neil Powell gesê.

Volgens Powell het die langer voorseisoen met sy span se voorbereiding gehelp en die Blitsbokke het 11 van hul eerste 12 wedstryde gewen.

Tog het hulle 119 539 toeskouers oor die drie dae op kookwater-rugby trakteer. Foto: GB Jordaan

“Dit is jammer dat ons nie in Kaapstad kon wen nie, want die skare was ongelooflik en ons sou mal daaroor gewees het om voor hulle die beker te wen.”

Die Blitsbokke het daagliks die 50 000 toeskouers op sjampanje-rugby trakteer en veral hul skitterende terugvegpoging teen Fidji – waar hulle 26 onbeantwoorde punte aangeteken het – sal enige Suid-Afrikaner trots maak.

Op sy beurt voel Siviwe Soyizwapi (kaptein) dat die Blitsbokke nie al hul geleenthede in die eindstryd teen Nieu-Seeland benut het nie.

“Die verskil tussen ons twee spanne in die eindstryd is dat die Kiwi’s een geleentheid gehad het om punte aan te teken en hulle het dit ten volle gebruik. Daarteenoor kon ons drie keer punte aanteken, maar ons kon net een keer,” het Soyizwapi gesê.

“Fisiek was dit ’n klipharde toernooi vir ons. Dit sou baie lekker gewees het as ons kon wen, want Kaapstad is verreweg my gunsteling van al die toernooie.”

Die Blitsbokke Ruhan Nel, JC Pretorius en Rosko Specman is in die span van die toernooi ingesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

So jammer ·

Ek is sooo jammer vir julle, werklik ‘n ongelooflik span van en op die veld!!!!! Baie sterkte en loop vat terug jul wenbeker!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.