Proudfoot toets positief vir Covid-19

Matt Proudfoot. Foto: Twitter.

Die man wat aan die stuur van die Springbokke se suksesvolle skrum gedurende die 2019-Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan was, Matt Proudfoot, het positief vir Covid-19 in Engeland getoets.

Die bekwame Proudfoot is deesdae een van Engeland se hulpafrigters. Die nuus is deur die Rose se rugbybeheerliggaam op sosiale media bevestig.

“Matt Proudfoot het positief vir Covid-19 getoets en is in selfisolasie.”

Volgens berigte toon hy egter geen simptome nie, terwyl Eddie Jones (hoofafrigter) en Simon Amor (hulpafrigter) ook as voorsorgmaatreël vir tien dae in selfisolasie moet wees.

Engeland is die verdedigende Sesnasies-kampioen en sy veldtog begin op 6 Februarie teen Skotland. Die toetse is juis ter voorbereiding vir die toernooi gedoen.

AFP berig dat die Rose se bestuurspan op 25 Januarie byeen sal kom, met Jones en kie wat die sessies oor die rekenaarskerm sal monitor.

Indien Jones en Amor negatief vir die virus toets, sal hulle vanaf 28 Januarie die oefeninge kan bywoon.

Proudfoot is ná die Wêreldbeker-toernooi deur Jones opgeraap. Tog sal hy sy tyd saam met die Bokke vir niks verruil nie.

“Dit was ’n absolute voorreg om deel van die Springbok-opset te wees. Maar dit is die einde van ’n era by die Bokke en die tyd was ryp om aan te beweeg,” het hy verlede jaar in ’n onderhoud gesê.

  • Die Rose sal in ’n spesiale trui teen die Skotte speel om 150 jaar van Engelse rugby te vier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.