Die Boland Kavaliers is voor Saterdag se wedstryde steeds die voorloper in die opstellende ronde van die Curriebeker ongeag sy nederlaag Vrydag in Nelspruit teen die Pumas.
Die Vodacombeker-kampioen het 12-10 gewen nadat die besoekers rustyd 10-9 voor was.
In die ander wedstryde Vrydag het die Curriebeker- Eerste Liga-kampioen, die Luiperds, vergoed vir sy vernedering verlede week teen die Griffons deur die Valke 26-24 op Olënpark op Potchefstroom te klop (rustyd 12-14); en die Westelike Provinsie (WP) het die Vrystaatse Vyftiental 36-31 op die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se veld in Bloemfontein geklop (rustyd 7-10).
♦ Twee spelers het al die punte aangeteken in die wedstryd tussen die Boland en die Pumas op Nelspruit.
Vier strafdoele deur die Pumas-losskakel, Justin van Staden, het `n doel en `n strafdoel deur die Bolandse heelagter, Nico Scheepers, getroef.
Van Staden se wenskop het in die 51ste minuut gekom en die laaste 30 minute van die wedstryd is deur hegte verdediging deur albei spanne gekenmerk.
♦ Spanning het insgelyks hoogty gevier in die wipplank-botsing tussen die Luiperds en die Valke op Potchefstroom.
Die wenspan se heelagter, Rhyno Smith, het 21 van sy span se punte aangeteken deur `n drie te druk en twee doelskoppe en vier strafdoele te behaal.
Smith het met `n strafdoel geslaag en toe `n doel behaal om die Luiperds in die 58ste minuut 22-21 te laat voorloop.
In die 71ste minuut was die Valke weer 24-22 voor ná `n strafdoel deur Karlo Aspeling, wat saam met drie doelskoppe nege van die Valke se punte behaal het.
Smith se wenstrafdoel het in die 78ste minuut gekom.
Kyle Hendriks het twee drieë vir die Valke gedruk.
♦ Daniël du Plessis, die seun van die Springbok Michael du Plessis, was Vrydag die ster in die WP se wedstryd teen die Vrystaatse Vyftiental.
Sy twee drieë aan die begin van die tweede helfte het die Streeptruie op die wenpad teen `n moeilike tuisspan geplaas.
Die Vrystaatse vleuel Mosolwa Mafuma het eweneens `n tweekuns behaal.
Die puntemakers –
Pumas 12 (9) – Strafdoele: Justin van Staden 3.
Boland Kavaliers 10 (10) – Drie: Nico Scheepers. Doelskop: Scheepers. Strafdoel: Scheepers.
Luiperds 26 (12) – Drieë: Rhyno Smith, Walt Steenkamp. Doelskoppe: Smith 2. Strafdoele: Smith 4.
Valke 24 (14) – Drieë: Kyle Hendriks 2, Sinovuyo Nyoka. Doelskoppe: Karlo Aspeling 3. Strafdoel: Aspeling 1.
Westelike Provinsie 36 (7) – Drieë: Daniël du Plessis 2, Jurie van Vuuren, Justin Philips, Luke Stringer. Doelskoppe: Scott van Breda 4. Strafdoel: Grant Hermanus.
Vrystaat-vyftiental 31 (10) – Drieë: Mosolwa Mafuma 2, Joseph Dweba, JP Smith, Tiaan Liebenberg. Doelskoppe: Sias Ebersohn 3.